|

AfriForum Jeug verf ontbrekende straatname in Brits

AfriForum Jeug se Brits-tak het Saterdag 28 Maart, in samewerking met lede van AfriForum Jeug se hoofkantoor in Centurion en AfriForum Jeug se Rustenburg-tak, afgestaan om ontbrekende straatname en padmerke in Brits te verf. Dertien AfriForum Jeug-lede het moue opgerol om met dié projek trots, netheid en orde in die gemeenskap te herstel.

Carel de Wet se straatnaam is netjies op die sypaadjie geverf, terwyl die Laerskool Olienpark se naam op sypaadjies op twee plekke geverf is.

“Hierdie projek wys wat moontlik is wanneer jongmense bereid is om self verantwoordelikheid vir hul gemeenskap te neem. Ons wag nie dat iemand anders dit doen nie – ons staan op en doen dit self,” sê Jac-Louis Horn, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Brits-tak.

AfriForum Jeug se Brits-tak bedank elkeen wat ’n rol gespeel het om van hierdie dag ’n sukses te maak.