|

AfriForum Jeug bemagtig Maties-studente met praktiese veiligheidsopleiding

AfriForum Jeug het die afgelope week ’n Veiligheid 101-werksessie by Kruiskerk in Stellenbosch aangebied om studente van die Universiteit Stellenbosch toe te rus met praktiese kennis en vaardighede om hulself beter op en om kampus te beskerm. Die sessie is in samewerking met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid aangebied, asook die organisasie sonder winsbejag Stop Trafficking of People en Helpende Hand se Wes-Kaap-tak.

Die veiligheidswerksessie het gefokus op algehele veiligheid, omgewingsbewustheid en die werklikheid van mensehandel in Suid-Afrika. Hierop het ’n praktiese opleidingsessie gevolg waar studente geleer is hoe om hulself uit gevaarlike situasies te kry. Dit het tegnieke ingesluit oor hoe om ’n kaping te ontsnap, asook hoe om op te tree in situasies waar wapens, soos messe, betrokke is. Die fokus was op vinnige denke, selfvertroue en basiese, maar effektiewe beginsels met betrekking tot selfverdediging.

“Veiligheid begin by die individu. Studente moet leer om hul omgewing te evalueer, gevaar betyds te identifiseer en die selfvertroue te hê om op te tree wanneer iets nie reg voel nie,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.

Sy voeg by dat hierdie soort inisiatiewe noodsaaklik is in die huidige Suid-Afrikaanse konteks. “Ons sien hoe studente toenemend blootgestel word aan misdaad soos kapings, roof en selfs mensehandel. Hierdie tipe opleiding bied nie net broodnodige kennis aan jongmense nie, maar bemagtig hulle ook om proaktief op te tree en hul eie veiligheid ernstig op te neem.”

Die werksessie het ook klem gelê op die belangrikheid van samewerking tussen organisasies, ondernemings en die gemeenskap om volhoubare oplossings vir veiligheid te bied. Studente is aangemoedig om nie net op gevestigde strukture staat te maak nie, maar om self deel van die oplossing te word deur waaksaam en verantwoordelik op te tree.

AfriForum Jeug se Maties-tak beoog om hierdie Veiligheid 101-werksessies op ’n gereelde basis aan te bied as deel van die organisasie se breër fokus op studenteveiligheid en gemeenskapsbemagtiging. Die organisasie moedig alle studente, sowel as die Stellenbosch-gemeenskap aan om in die toekoms by hierdie sessies betrokke te raak.

“Wanneer studente toegerus is met die regte kennis en vaardighede, skep ons nie net veiliger kampusse nie, maar ook sterker, meer weerbare gemeenskappe,” sluit Gerber af.