Toekomsskeppers: AfriForum Jeug bemagtig jong leiers in Wes-Kaap
AfriForum Jeug het op 19 Maart sy jaarlikse leierskapsgeleentheid, Toekomsskeppers, vir leiers van Wes-Kaapse skole aangebied. Leerders en onderwysers van Hoërskool Parel Vallei, Hoërskool Bellville en DF Akademie het dié spoggeleentheid by Akademia se Paarl-kampus bygewoon.
Die Toekomsskeppers-inisiatief fokus op die ontwikkeling van hoërskoolleiers sodat hulle toegerus is vir hul huidige leierskapsposisies, maar ook voorbereid is vir toekomstige leierskapsrolle by tersiêre instellings en in hul loopbane.
Danie Rossouw, ’n senior prokureur en uitvoerende konsultant met meer as 30 jaar se ervaring, het as gasspreker opgetree.
Rossouw het waardevolle beginsels van goeie leiers opgesom in drie kernbeginsels:
- Begin iets: Doen die een ding wat jy lankal uitstel.
- Hou jou woord: Jou karakter word gemeet aan jou beloftes.
- Help iemand groei: Wees die mentor wat jy self nodig gehad het.
Die jong leiers het ook die geleentheid gekry om met mekaar te netwerk en waardevolle verhoudings te bou. ’n Kernaspek van die Toekomsskeppers-inisiatief is juis om netwerkgeleenthede soos hierdie te skep waar toekomsskeppers in ’n gemaklike omgewing byeen kan kom om goeie verhoudings te bewerkstellig wat hulle in die toekoms op voort kan bou.
“Hierdie funksie het die afgelope paar jaar byna ’n tradisie geword in die Wes-Kaap en ons weet die skole sien elke jaar hierna uit. Die impak wat dit op jong leiers het, is sigbaar. Wanneer hulle hier uitstap is hulle toegerus met nuwe kennis en ’n hernude gevoel van verantwoordelikheid,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.
“Die toekoms van ons gemeenskappe lê in die hande van jongmense wat bereid is om verantwoordelikheid te vat en ’n verskil te maak. Toekomsskeppers bied vir hulle daardie ruimte om te kan groei, leer en mekaar te inspireer,” sluit Gerber af.
AfriForum Jeug bly daartoe verbind om platforms te skep waar jongmense toegerus word om met selfvertroue en integriteit leiding te neem.


