AfriForum Jeug rus Kovsies-studente toe met praktiese veiligheidsvaardighede



Meer as 30 studente van die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) het op Woensdag, 11 Maart, AfriForum Jeug se Veiligheid 101-opleidingsessie by die Amelia-dameskoshuis bygewoon. Die sessie is in samewerking met AfriForum se gemeenskapsveiligheid-afdeling en Protospan aangebied met die doel om studente toe te rus met praktiese kennis en vaardighede om hul persoonlike veiligheid op en rondom kampus te verbeter.
Veiligheid 101 fokus daarop om studente bewus te maak van algemene veiligheidsrisiko’s waarmee jongmense te doen kry. Die opleiding het bestaan uit ’n teoretiese gedeelte waarin kernaspekte soos omgewingsbewustheid, die herkenning van potensiële bedreigings en basiese veiligheidsbeginsels bespreek is. Daarna het ’n praktiese sessie gevolg waarin studente selfverdedigingstegnieke, reaksie in noodsituasies en basiese noodhulpbeginsels kon inoefen.
Deelnemers het nie net teoretiese kennis opgedoen nie, maar ook aktief aan praktiese oefeninge deelgeneem om hulself beter voor te berei vir moontlike gevaarlike situasies.
“Dit is bemoedigend om te sien dat die Kovsie-studente hul veiligheid ernstig opneem en doelbewus die tyd insit om hulself met praktiese vaardighede toe te rus,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug. “Wanneer studente bewus is van hul omgewing en weet hoe om vinnig en doelgerig op te tree, verhoog dit hul kanse om gevaarlike situasies te vermy of veilig daaruit te kom.”
Gerber voeg by dat sulke inisiatiewe kennis oordra en versterk ook studente se selfvertroue om verantwoordelik vir hul eie veiligheid op te tree.
Volgens AfriForum vorm hierdie tipe opleidingsessies deel van ’n breër poging om jongmense en gemeenskappe te bemagtig om hul veiligheid ernstig op te neem en proaktief op te tree.
“AfriForum streef daarna om jongmense en die breër gemeenskap te help om veiliger te leef deur praktiese veiligheidsopleiding en nuttige wenke aan te bied. Hoe meer omgewingsbewus ’n persoon is, hoe groter is die kans om potensiële risiko’s betyds raak te sien en ernstige voorvalle of beserings te voorkom,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
AfriForum Jeug moedig studente aan om proaktief oor hul veiligheid te dink en deel te neem aan soortgelyke opleidingsgeleenthede. Die organisasie beoog om in die toekoms nog sulke sessies by universiteite en in gemeenskappe aan te bied om studente met die nodige vaardighede toe te rus om hulself en ander te beskerm.


