Kovsies-studente rol moue op en herstel 20 slaggate voor koshuise
AfriForum Jeug se Kovsies-tak het kragte saamgesnoer met die burgerregteorganisasie se Bloemfontein-tak om altesaam 20 slaggate in Groenewoudstraat te herstel. Dié straat is ’n belangrike toegangsroete vir die studente van Amelia Dameskoshuis en Veritas Manskoshuis, daarom het studente wat in hierdie koshuise woonagtig is die afgelope Vrydag hand bygesit met die herstelwerk.
Die projek is moontlik gemaak deur ’n ruim skenking van die konstruksiemaatskappy Raubex, wat nege ton teer beskikbaar gestel het. Raubex het boonop ’n span van tien werkers, saam met die nodige masjinerie en kundigheid, gestuur om leiding te neem met die herstelwerk. Die totale waarde van hierdie skenking beloop meer as R13 000.
Heinard Stroebel, primarius van Veritas Manskoshuis, sê dit was besonders om te sien hoe die studente in hul massas opgedaag het om saam aan hierdie projek te werk. “Om vir die munisipaliteit te wag gaan nie werk nie, daarom moes ons self ons moue oprol om die werk gedoen te kry,” sê hy.
“Die samewerking en entoesiasme waarmee die dames en mans opgedaag het, was werklik inspirerend. Dit is ’n voorreg om self deel te kon wees van die oplossing en dat AfriForum Jeug en Raubex met die inisiatief gekom het om dié padprobleem aan te pak,” sê Yana Scheffer, primaria van Amelia Dameskoshuis.



Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, dien hierdie projek as ’n bewys van die impak wat samewerking tussen die gemeenskap, studente en die privaatsektor kan hê.
“Hierdie projek is ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer mense saamstaan om hul gemeenskap te verbeter. Sonder Raubex se ruim skenking van materiaal, hul span en toerusting, sowel as die entoesiastiese betrokkenheid van die studente, sou hierdie aksie eenvoudig nie moontlik gewees het nie. Ons is opreg dankbaar vir elke persoon en organisasie wat ’n bydrae gelewer het,” sê Groenewald.
Samewerking tussen gemeenskappe, organisasies en die privaatsektor bly noodsaaklik om praktiese oplossings vir plaaslike uitdagings te bied en om volhoubare verbeterings in dorpe en stede regoor Suid-Afrika te bewerkstellig.




