AfriForum Jeug vuur en vlam vir Gauteng se Toekomsskeppers
AfriForum Jeug het vandeesweek sy jaarlikse leierskapsgeleentheid, genaamd Toekomsskeppers, vir leerders van Gautengse skole aangebied. Onder die tema “Vonk Voort” het leerders van Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Eldoraigne en die Christelik-Volkseie Onderwys Skool (CVO) Pretoria geleer hoe om hul huidige en toekomstige leierskaprolle met verantwoordelikheid en visie te vervul.
Die Toekomsskeppers-inisiatief fokus op die ontwikkeling van jong hoërskoolleiers met die doel om hulle nie net vir hul huidige leiersposisies toe te rus nie, maar ook om hulle voor te berei vir toekomstige leierskaprolle. Hierdie program vind twee keer per jaar plaas: eerstens met nuutverkose gr. 11-leiers en dan weer vroeg in hul gr. 12-jaar, waar daar verder gebou word op hul leierskapvaardighede en persoonlike ontwikkeling.




Tydens die geleentheid het Werner Human, operasionele hoof van die Solidariteit Beweging, as gasspreker opgetree en die leerders aangemoedig om doelgerig te leef, verantwoordelikheid te aanvaar en ’n positiewe invloed in hul gemeenskappe te wees.
“Die doel van Toekomsskeppers is om ’n vonk by jong leiers aan te steek. ’n Vonk van verantwoordelikheid, diensbaarheid en visie vir die toekoms. Wanneer jong mense reeds op skoolvlak toegerus word met hierdie waardes en vaardighede, skep dit ’n sterk fondasie vir die leiers wat ons land en gemeenskappe in die toekoms nodig het,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.
AfriForum Jeug sien uit om die Toekomsskeppers-program verder uit te bou en nóg jong leiers oor die land heen te bereik.

