Tuks-studente nie weerloos gelaat danksy AfriForum Jeug
AfriForum Jeug se Tuks-tak het vandeesweek in samewerking met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid ’n Veiligheid 101-werksessie vir studente by die Universiteit van Pretoria (UP) se LC de Villiers-sportgronde aangebied. Die doel van hierdie opleiding is om studente met kennis en praktiese veiligheidsvaardighede toe te rus om hulself teen misdadigheid op en om kampus te beskerm.
Een van AfriForum Jeug se hooffokusareas is die veiligheid van studente, daarom het dié jeugorganisasie hom daartoe verbind om studente te bemagtig om te weet hoe om hulself te beveilig wanneer hulle in ongewenste of gevaarlike situasies beland.
Hierdie veiligheidswerksessie, wat deur beide mans- en vrouestudente bygewoon is, het teoretiese en praktiese elemente bevat. Die teoretiese deel het gehandel oor omgewingsbewustheid, hoe om moontlike bedreigings te identifiseer en watter basiese beginsels toe te pas om veiligheid op te skerp. Die praktiese komponent het selfverdedigingstegnieke bevat en scenario’s ingesluit wat studente help voorberei op moontlike situasies waar hulle hulself moet beskerm of vinnig hulp moet ontbied.
“Studente is dikwels ’n maklike teiken vir misdaad omdat hulle gereeld laat in die aand beweeg en soms onbewus is van hul omgewing. Hierdie tipe veiligheidswerksessies help om studente meer bewus en selfversekerd te maak wanneer dit by hul eie veiligheid kom. Ons wil hê studente moet nie net ingelig wees nie, maar ook praktiese vaardighede hê om in moeilike situasies op te tree,” sê Leam Nieuwoudt, ondervoorsitter en veiligheidsbeampte van die AfriForum Jeug se Tuks-tak.
“Studente moet toegerus word met basiese kennis en vaardighede om hulself te beskerm. Veiligheidsinisiatiewe soos hierdie help om ’n kultuur van paraatheid en verantwoordelikheid onder studente te bou. AfriForum Jeug wil studente bemagtig om proaktief oor hul veiligheid te dink en mekaar te ondersteun,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug.
AfriForum Jeug beoog om in die toekoms nog soortgelyke Veiligheid 101-werksessies by universiteitskampusse oor die land heen aan te bied om nóg studente verder toe te rus en bewustheid oor studenteveiligheid te verhoog.

