AfriForum Jeug pak Brits-straatname tydens straatverfdag



AfriForum Jeug se Brits-tak het gewys dat jongmense beslis nie op hul louere gaan rus en wag vir verandering nie, hulle gaan self verandering teweeg bring. Op 28 Februarie het dié span hul verfkwaste en stensils ingespan om verskeie straatname op randstene te verf.
Daar was 15 taklede wat deelgeneem het en agt straatname is oorgeverf. Die jeug het gewys dat daadwerklike optrede die enigste manier is om volhoubare verandering teweeg te bring.
Hierdie projek vorm deel van AfriForum Jeug se missie om jongmense toe te rus om verantwoordelikheid vir hul gemeenskappe te neem en praktiese oplossings te implementeer waar strukture faal.
“Ons generasie kies om nie slagoffers van omstandighede te wees nie. Ons kies om bouers te wees,” sê Jac-Louis Horn, ondervoorsitter van AfriForum Jeug se Brits-tak. “As iets nie reg is nie, maak ons dit reg.”
Volgens Tania Scheepers, junior jeugbeampte by AfriForum Jeug, wys projekte soos hierdie dat plaaslike betrokkenheid ’n tasbare verskil maak. “Ons wil ook graag jongmense in ander dorpe aanmoedig om moue op te rol en inisiatiewe soos hierdie in hulle gemeenskappe aan te pak.”
AfriForum Jeug beplan om voort te bou op hierdie momentum met verdere projekte wat werklike impak in die Brits-gemeenskap sal maak. Jongmense en inwoners wat glo in selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots word aangemoedig om betrokke te raak.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit.

