|

AfriForum Jeug verbeter veiligheid om Bloem-skole

AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak het die afgelope naweek op die verbetering van pad- en leerderveiligheid by skole in dié Rosestad gefokus. Verskeie praktiese projekte is aangepak om leerders en padgebruikers se veiligheid om die skole te verseker.

Die tak het voetoorgange by Laerskool Sand du Plessis in Leeuwenhoek- en Fowlerstraat oorgeverf. By Hoërskool Sand du Plessis in Pasteurrylaan is die voetoorgange en die padmerke van ’n stopstraat oorgeverf. Hulle het ook vier slaggate in Mayostraat herstel.

Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum Jeug se volgehoue poging om gemeenskapsveiligheid deur selfdoenaksies en samewerking met plaaslike rolspelers te versterk.

AfriForum Jeug se Bloemfontein-tak bedank AfriForum se Hospitaalpark-tak en AfriForum se Uitsig-buurtwag vir die skenking van verf en teer, wat hierdie projekte moontlik gemaak het. Die jeug-tak bedank ook AfriForum911 se reaksie-eenheid wat praktiese ondersteuning op die terrein gebied het.

“Projekte soos dié is moontlik wanneer die gemeenskap saamstaan en verantwoordelikheid neem. Ons jeug is bereid om moue op te rol en daadwerklik ’n verskil te maak waar dit die nodigste is. Deur praktiese aksies soos hierdie bou ons nie net aan veiliger paaie nie, maar ook aan ’n sterker gemeenskap,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder van AfriForum se Bloemfontein-tak.

Lede van die gemeenskap wat betrokke wil raak by soortgelyke projekte of wat inisiatiewe soos hierdie wil borg, kan ’n e-pos stuur na christo.groenewald@afriforum.co.za. AfriForum bly daartoe verbind om saam met die gemeenskap te werk om ’n veiliger en beter Bloemfontein te bou.