|

AfriForum Jeug se Maties-tak neem leiding met skoonmaakprojek in Stellenbosch

AfriForum Jeug se Maties-tak het Saterdag 21 Februarie ’n suksesvolle skoonmaakprojek in Stellenbosch aangebied as deel van hul voortgesette verbintenis tot gemeenskapsdiens en verantwoordelike burgerskap.

Die aksie het by die park tussen Blomweg en Millstraat plaasgevind, asook in die omliggende areas van Bird-, Plein- en Andringastraat. Spanlede het met vullissakke en beskermende toerusting deur die gebied beweeg om rommel op te tel en openbare ruimtes netjieser, veiliger en meer higiënies te maak. Verskeie vullisdromme is ook deeglik skoongemaak as deel van die inisiatief. Aan die einde van die dag is 13 vullissakke vol rommel verwyder.

Volgens die organisasie spruit die projek uit ’n sterk gevoel van trots en omgee vir die omgewing waar studente woon en studeer. Die aksie het nie net ’n tasbare verskil in die netheid van die area gemaak nie, maar ook prakties gewys hoe jongmense deur dienslewering ’n positiewe impak kan hê.

“Hierdie tipe projekte bou nie net skoner ruimtes nie, maar ook sterker gemeenskappe. Dit wys wat moontlik is wanneer jongmense verantwoordelikheid neem en self deel word van oplossings,” het Christiaan Kershoff, voorsitter van AfriForum Jeug se Maties-tak gesê. Die organisasie bedank Stellenbosch Munisipaliteit vir hul volgehoue diens aan die gemeenskap, asook vir hul samewerking en ondersteuning met die aksie.

AfriForum Jeug moedig studente en inwoners aan om gedurende die jaar betrokke te raak by plaaslike projekte en saam te werk om praktiese oplossings vir gemeenskapsuitdagings te bou.