|

Knysna-skole ontvang skooltasse vol skryfbehoeftes van Kaapse Forum

Kaapse Forum het vandeesweek 49 uit die 400 skooltasse wat die burgerregteorganisasie aan behoeftige graad 1-leerders in die Wes-Kaap skenk, aan skole in die Knysna-omgewing oorhandig. Altesaam 25 skooltasse – gevul met skryfbehoeftes – is aan Hornlee Primêre Skool en 24 tasse aan Fraaisig Primêre Skool se graadeens geskenk. Hierdie skenking is deel van die organisasie se skooltassieprojek wat in samewerking met die Virseker Trust aangepak word.

“Toegang tot gehalteonderrig is belangrik en onontbeerlik, veral by skole in die Knysna-gemeenskappe. Navorsing het al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheid lei. Kaapse Forum hoop daarom dat hierdie skenking aan die onderskeie skole ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die leerders wat by die projek baat,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering.

Die heel basiese items op ’n graad 1-leerder se skryfbehoeftelys kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar hongersnood sowat 330 000 kinders raak en dié syfer oor die afgelope twee dekades nie afgeneem het nie, is dit verstaanbaar dat duisende leerders se ouers net eenvoudig nie die geld het om skryfbehoeftes aan te koop nie.

“Ons het met groot dankbaarheid 49 skooltasse by twee primêre skole versprei; die vreugde op die kinders se gesigte was onbeskryflik. Baie dankie aan Kaapse Forum en die Virseker Trust vir die geleentheid om saam ’n verskil te maak,”  sê Anna Lombaard van AfriForum Jeug se Knysna-tak.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes ’n verskil in die leerders se lewens sal maak, veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding begin. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring die Wes-Kaap nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.

Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust, AfriForum, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en PEP, wat beduidende afslag op die skooltasse en die inhoud daarvan gegee het. Kaapse Forum kon vanjaar dus meer as dubbel soveel tasse as verlede jaar uitgee.