|

AfriForum Jeug inspireer jong Wes-Kaapse leiers om doelgerig te lei

AfriForum Jeug het in Oktober jong leiers van vyf verskillende skole in Stellenbosch verwelkom vir die Toekomsskeppers-leierskapsontwikkelingsgeleentheid. Dié dag, aangebied deur die jeugorganisasie, is daarop gemik om te inspireer, self-insig te gee en praktiese leiding aan die leiers van môre te bied.

Skoliere en personeel van Hoërskool Durbanville, Hoërskool Bellville, HTS Drostdy, Hoër Meisieskool Bloemhof en Parel Vallei Hoërskool het saam met AfriForum Jeug deelgeneem aan ’n dinamiese program wat jong mense help om hul unieke leierskapsidentiteit te ontdek.

Altesaam 40 mense bestaande uit skoliere en onderwyspersoneel het die dag bygewoon en deelgeneem aan gesprekke oor persoonlike groei, verantwoordelikheid en die invloed wat elke jong leier in sy of haar gemeenskap kan hê.

Dries Lombaard, hoofspreker en medeskepper van die EngagementFit DRIVE-assessering, het die groep gelei met ’n interaktiewe sessie wat deelnemers help verstaan het wat hul motiveer en waar hulle energie vandaan kry. “Leierskap is nie ’n titel nie – dis ’n ingesteldheid,” het Lombaard verduidelik. “Wanneer jy weet wat jou dryf, kan jy met groter doel en deursettingsvermoë lei.”

Vir baie van die jong leiers was dit nie net ’n dag van leer nie, maar ook ’n kans om sinvolle verbintenisse te vorm met eweknieë van ander skole wat dieselfde waardes deel. Volgens Yvonne Gerber, beampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug, was dit ’n besonderse ervaring om te sien met hoeveel entoesiasme die Wes-Kaapse skoliere die geleentheid benut het.

“Die skoliere het met ywer en ’n passie vir selfverryking die geleentheid aangepak. Dit wys dat die jeug nie passief is nie, maar vasberade is om te leer, lei en bou aan iets groter as hulself,” sê Gerber.

Sy voeg by dat AfriForum Jeug se Toekomsskeppers-inisiatief oor meer as net leierskapsopleiding handel. “Ons wil jong mense help verstaan dat ware leierskap by hul karakter begin, nie by gewildheid of titels nie. Dít is wat uiteindelik gemeenskappe versterk.”

AfriForum Jeug glo dat elke jong mens die vermoë het om betekenisvolle verandering te bring. Deur in hul ontwikkeling te belê, bou die organisasie aan ’n generasie wat met waardes, visie en vasberadenheid lei.

Sluit aan by AfriForum Jeug en help dié organisasie om nog meer jong Suid-Afrikaners toe te rus om die toekoms met selfvertroue en integriteit aan te pak. Besoek https://sluit-aan.afriforumjeug.co.za/af vir meer inligting.