|

AfriForum Jeug betreur die moord op Charlie Kirk, lê krans by Amerikaanse ambassade

Klankgreep: Louis Boshoff (Afrikaans)
Klankgreep: Louis Boshoff (Engels)

AfriForum Jeug betreur die dood van Charlie Kirk, ’n kritieke stem in die bevordering van konserwatiewe politieke denke onder veral die Westerse jeug, wat gistermiddag op ’n universiteitskampus in die Amerikaanse deelstaat Utah in ’n sluipmoordaanval vermoor is. Die jeugorganisasie het vandag as blyk van innige meegevoel met die Kirk-familie en sy geliefdes ’n krans by die Amerikaanse ambassade in Pretoria gelê.  

In AfriForum Jeug se huldeblyk aan Kirk vereer die organisasie sy vaardigheid en takt wat hy in openbare gesprekke openbaar het en bestempel die ontslape aktivis as ’n inspirasie.

“Kirk word onthou vir sy onwrikbare geloof en karaktervastheid wat hy dikwels onder druk getoon het tydens onderhoude en debatte. Sy liefde vir sy gesin en jongmense oraloor dien ook as voorbeeld vir ons. Ons gebed is dat sy naasbestaandes by die Here vertroosting mag vind, soos dit aan ons beloof word in 2 Korintiërs 1:3: “Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee,” lui die res van AfriForum Jeug se huldeblyk.

Volgens Louis Boshoff, AfriForum Jeug-woordvoerder, is Kirk se moord ’n wekroep wat wys op ’n wêreldwye onverdraagsaamheid teenoor konserwatiewe denke. “Ook plaaslik loop instellings en individue wat linkse oortuigings uitdaag, onder fel kritiek deur en word dit op ’n ongegronde basis telkens as rassisme of ’n terughunkering na apartheid uitgekryt. Kirk het egter deur sy debatte met veral jongmense van uiteenlopende denkrigtings bewys dat die konserwatiewe stem gehoor moet word en dat goed gefundeerde argumente sal seëvier in ’n wêreld waar ’n woke-agenda dikwels afgedwing word op jongmense,” verduidelik Boshoff.