
AfriForum Jeug se mentorskap help jonges in leiers ontwikkel
AfriForum Jeug se jaarlikse mentorskapprogram is die afgelope maand weer in Pretoria aangebied as deel van die burgerregteorganisasie se strewe om die leiers van die toekoms te help vorm. Hierdie intensiewe ontwikkelingsweek, wat van 6 tot 12 Julie geduur het, het 12 uitgekose studente van oor Suid-Afrika heen bymekaargebring om hulle leierskapsvaardighede te ontwikkel, kultuurbewustheid by hulle te kweek en praktiese gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe te ervaar.
Die groep was geografies en kultureel uiteenlopend en het universiteitstudente van onder meer Stellenbosch, Port Elizabeth, Paarl, Potchefstroom, Bloemfontein en Pretoria ingesluit. Meeste van die deelnemers is aktief by AfriForum Jeug se plaaslike takke betrokke, terwyl ander vir die eerste keer met die organisasie te doene gekry het.
Die program het afgeskop met ’n spesiale fokus op erfenis en kultuur. Die groep het eers ’n besoek aan die Voortrekkermonument afgelê, die Museum Teater ervaar en toe in die ossewaens van die Lewende Laer oornag. Studente het geleer sweep slaan en hul verbintenis tot hul kultuur en geskiedenis herontdek.
Die daaropvolgende Maandag (7 Julie) het die studente meer oor AfriForum en die Solidariteit Beweging geleer en temas rakende selfdoenaksies bespreek. Die volgende dag is die studente in drie groepe verdeel, waarna hulle na drie verskillende provinsies gereis het om by praktiese gemeenskapsinisiatiewe, gedryf deur AfriForum, betrokke te raak.
Groep 1 (Mpumalanga):
Dié groep het Bethal, Middelburg en Delmas besoek, waar hulle gehelp het om ’n vullisterrein te oudit, slaggate met 2,5 ton gruis te herstel, gras by ’n plaaslike polisiestasie te sny, verkeerstekens skoon te maak en patrollies saam met Delmas se Valke-buurtwag te ry.

Groep 2 (Limpopo):
In Thabazimbi het hierdie groep saam met die plaaslike tak en munisipale werkers 2 ton gruis gebruik om slaggate te herstel. Hulle het ook besoek afgelê aan die plaaslike water- en rioolaanleg, Modimolle (Nylstroom) se vullisterrein en noodwaterpunte besoek en daarna saam met die Potgietersrus-buurtwag patrollies gery.


Groep 3 (Noordwes):
Studente het saam met die Sasolburg-tak die gebied langs die N1 opgeruim, slaggate in Parys herstel en watertoetse op die Vaalrivier gedoen om die drinkbaarheid daarvan te bepaal. Die groep het hul toer afgesluit met ’n besoek aan die Totius-museum en patrollies saam met die Potchefstroom-buurtwag gery.

Die program het Donderdag in Pretoria hervat met inspirerende praatjies en werkswinkels wat fokus op persoonlike ontwikkeling. Die Vrydag moes die groep universiteitstudente ’n simulasie-mediakonferensie aanbied oor die week se gebeure en AfriForum se betrokkenheid by waterbestuur, gemeenskapsveiligheid en selfdoenaksies. Die studente het selfs elkeen basiese skietopleiding saam met AfriForum se afdeling vir Gemeenskapsveiligheid ontvang.
“Hierdie program stel AfriForum in staat om potensiële leiers vroeg reeds te identifiseer en hulle die nodige hulpbronne te gee om hul vaardighede ten volle te ontwikkel,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.
“Hierdie studente kan oor die volgende vyf tot tien jaar kampusleiers wees of beroepspersone in sleutelrolle waar hulle aktief vír geregtigheid en téén agteruitgang veg.”

