
‘Sangoma-ritueel’: AfriForum Jeug eis volle verslag van NWU ná twyfelagtige bevinding
AfriForum Jeug eis toegang tot die Noordwes-Universiteit (NWU) se volledige ondersoekverslag wat opgestel is na aanleiding van die ontstellende voorval wat vandeesweek (13 April 2025) by die Eikenhof-dameskoshuis plaasgevind het. Die NWU beweer nou dat daar nie ’n sangoma betrokke was by hierdie insident nie, maar bied nie ’n alternatiewe verduideliking vir die gebeure nie. Volgens AfriForum Jeug het die NWU se terugvoer geen bykomende feite of inligting oor hulle ondersoek bevat nie.
Volgens die universiteit is daar “geen bewyse gevind dat ’n sangoma Eikenhof besoek het nie”, en dat daar ook “geen kulturele ritueel plaasgevind het nie”. AfriForum Jeug meen dat die NWU oop kaarte moet speel en die ondersoekverslag met die werklike bevindinge daarvan met die organisasie deel.
Die NWU se bevindinge is teenstrydig met die getuienis van verskeie studente wat met AfriForum Jeug kontak gemaak het. Dié studente beweer dat ’n tradisionele ritueel wel plaasgevind het en dat dit wel gepaardgegaan het met bloedstollende gille wat vir meer as ’n uur en ‘n half lank deur die gange van die koshuis weerklink het. Sommige studente was só ontsteld dat hulle nie in hul eie kamers wou slaap nie.
“Indien die NWU volhou dat daar nie ’n sangoma teenwoordig was nie, wil ons weet wat daartoe gelei het dat ’n inwoner vir byna ’n uur en ’n half gegil het, of dit aan die koshuismoeder gerapporteer is en hoe dit verder hanteer is,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir ontwikkeling by AfriForum Jeug. “Dit is kommerwekkend dat die NWU hierdie laatnag gille bloot aanvaar terwyl dit ’n emosionele en psigologiese impak op talle studente in die koshuis gehad het.”
Gerber voeg by dat die jeugorganisasie nie sal rus voor hulle die volledige verslag onder oë gehad het nie. “Dit is kommerwekkend dat die NWU nie ag slaan op studente se klagtes nie. As hulle met van die inwoners sou praat wat op en onder die gang bly waar die insident plaasgevind het, sou hulle die erns van hierdie saak verstaan. Om te maak of niks gebeur het nie is minagtend teenoor die inwoners wat hierdeur geaffekteer is en die insident aangemeld het. Dit is ook nie regverdig om hierdie insident as ’n kulturele of geloofsverskil af te maak nie – die feit is dat die gille talle inwoners ontstel het en steurend was. Studente moet gemoedsrus kan hê terwyl hul ver is van hul ouerhuise is, na afloop van hierdie antwoord vanaf die NWU is ek onseker of die studente gemoedsrus in die koshuis gaan hê. Daar is selfs studente wat uit vrees die koshuis wil verlaat,” sluit Gerber af.
AfriForum Jeug het vroeër geëis dat ’n formele ondersoek van stapel gestuur word na die gebeure; dat die universiteit ’n duidelike standpunt en beleid oor die beoefening van geloofs- en kulturele rituele in koshuise saamstel; en dat toegewyde ruimtes vir die beoefening van soortgelyke rituele of seremonies ingeruim moet word wat die regte van alle studente beskerm en respekteer. Daarbenewens het die jeugorganisasie ook geëis dat doelgemaakte opleiding aan koshuisbestuur gebied moet word in die hantering van studenteklagtes, en dat traumaberading beskikbaar gestel moet word aan inwoners van die koshuis wat emosioneel deur die voorval geraak is.
Klankgrepe van beweerde sangoma-voorvalle by NWU-koshuis: