
Matzikama-jeugtak opgelei in veiligheid en selfverdediging
AfriForum Jeug se Matzikama-tak het verlede naweek aan Veiligheid 101, ’n AfriForum-program wat op verskeie aspekte van veiligheid fokus, deelgeneem. Sessies is aangebied oor die vlaag van misdaad in Suid-Afrika, terwyl die jeug ook meer bewus geword het van die misdaadtendense in hul omgewing. Hulle is ook opgelei in selfverdediging, waaronder om aanvalle met en sonder wapens – soos messe en vuurwapens – af te weer, asook seksuele aanranding.
Twintig lede het aan die program deelgeneem.
Josua Venter, voorsitter van AfriForum Jeug se Matzikama-tak, sê dat die jongmense van hierdie tak ’n behoefte het om ’n positiewe verskil in die land te maak. “Ons is nie net die toekoms van môre nie, maar glo dat ons ook oor genoegsame leierseienskappe beskik om mense trots op Suid-Afrika te maak,” sê Venter.
Johan Crous, AfriForum se koördineerder vir veiligheid in die Wes-Kaap, sê hy het lanklaas soveel passie en energie tydens opleiding by mense bespeur.
Sedert hierdie AfriForum Jeug-tak se stigting in November 2024, het hulle ook al ’n noodhulpkursus gedoen. In Februarie het hulle die plaaslike brandweer besoek en die groentetuin op hierdie perseel opgeknap. Tans samel hulle fondse in vir die plaaslike Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se K9-eenheid om katpakke vir die polisiebeamptes aan te koop.
Die jeug-tak beplan om een aand saam met die SAPD te werk en wil ook sien hoe padblokkades hanteer word.
Lede van die publiek wat betrokke wil raak en meer uitvind, kan Eric van Zyl, voorsitter van AfriForum se Matzikama-tak, by 072 2305 220 of voorsitter.vredendal@afriforumtak.co.za kontak.
