WhatsApp Image 2024-12-04 at 16.19.49

Maroela Oord-inwoners in Lephalale bederf met ete en tuisgebakte geskenke vir Kersfees

AfriForum Jeug se Ellisras-tak het Saterdag 30 November die inwoners van SAVF Maroela Oord in Lephalale behoorlik bederf met ’n heerlike Kersete en tuisgebakte koekies en beskuit as geskenk. Die tuisgebak is in handgemaakte geskenkhouers verpak en uitgedeel. Dié jeugtak se jaarlikse Kersprojek is vanjaar in samewerking met gemeenskapslede, Sonskynparadys Kleuterskool en Shosholoza Consulting uitgevoer.

“Die atmosfeer was gevul met lag, geselskap en die deel van stories uit vervloë dae. Toe middagete bedien word, het ’n gevoel van vervulling en trots die AfriForum-span oorweldig, aangesien hulle gesien het hoe die inwoners elke happie van die liefdevol voorbereide ete geniet. Die opregte dankbaarheid in die inwoners se oë en gebare het die maande van harde werk beloon op maniere wat woorde nie kan beskryf nie,” sê Mia de Wet, tesourier van AfriForum se Ellisras-tak.

AfriForum Jeug en die plaaslike takbestuur spreek hul opregte dank uit aan SAVF Maroela Oord vir die geleentheid om die inwoners te bederf; Sonskynparadys Kleuterskool vir die pragtige tafelversierings, geskenke en kerskaartjies; Shosholoza Consulting vir hul ondersteuning en skenking van die pragtige geskenke; en elke lid van die gemeenskap wat hul tyd, energie en hulp aangebied het om hierdie projek ’n sukses te maak. Sonder enige hulp sou hierdie spesiale geleentheid nie moontlik gewees het nie.

“Dit is projekte soos hierdie wat die ware gees van Kersfees en gemeenskapsbetrokkenheid lewendig hou. Saam kan ons die wêreld ’n beter plek maak – een gebaar van liefde op ’n slag,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

Om by toekomstige aksies in Lephalale betrokke te raak of vir enige verdere navrae, kontak MariLouise Trunbull, voorsitter van AfriForum Jeug se Ellisras-tak, by 073 681 2911 of De Wet by 072 959 2800. Andersins, besoek www.wordlid.co.za.