Stellenbosch_University

Uurglas loop leeg vir Maties in SR-saak; AfriForum Jeug reg om hooggeregshof te nader ná appèlproses meer as 20 dae lank sloer

Vyf dae – dít is hoeveel tyd die Universiteit Stellenbosch (US) het om uitspraak te lewer in die kontroversiële appèlteen die onbillike diskwalifikasie van Jolene le Roux, ’n pro-Afrikaanse Studenteraad- (SR-)lid van Maties. AfriForum Jeug het sy regspan vandag opdrag gegee om die hooggeregshof te nader indien die universiteit versuim om binne die jeugorganisasie se spertyd, teen 7 November 2024, uitspraak in dié uitgerekte saak te lewer.

AfriForum Jeug het daarom vandag, by monde van sy regsverteenwoordiger, Wian Spies, ’n amptelike skrywe aan die universiteit se visiekanselier, prof. Wim de Villiers, gerig en hom in kennis gestel van die plan om die hooggeregshof te nader om by die saak in te gryp.

Die eis om die universiteit se studentehof te dwing om uitspraak te lewer, volg nadat daar reeds op 8 Oktober ’n dringende appèlaansoek teen Le Roux se onbillike diskwalifikasie ingedien is. Hoewel die studentehof aangedui het dat die saak wel dringend is, sloer die saak reeds meer as 20 dae lank, onder meer omdat die respondent in die appèlsaak ’n teenappèl laat ingedien het.

Le Roux is op 5 Oktober in kennis gestel dat sy as SR-lid gediskwalifiseer is. Die studentehof het haar skuldig bevind op ongegronde aantygings dat sy tydens die SR-verkiesingsveldtog onregverdige voordeel getrek het uit ’n Nasionale Vrouedagviering wat AfriForum Jeug aangebied het, en dat sy – met ’n plasing oor die aksie op AfriForum Jeug se Instagram-blad – derhalwe die universiteit se verkiesingskommissiereëls oortree het.

“Intussen het die universiteit ’n tydelike SR-lid aangestel,” verduidelik Yvonne Gerber, AfriForum Jeug se ontwikkelingsbeampte. “Dis kommerwekkend dat die universiteit se prioriteit lê by die aanstelling van ’n tydelike SR-lid eerder as om die appèlproses af te handel. Hierdie aanhoudende vertragings hou ernstige nadele in vir Le Roux en die res van die SR wat nie hul pligte kan uitvoer nie.”