AfriForum Jeug_24 Oktober 2024_3
| DeurAfriForum

Basta met Bela, bou eerder skole, sê AfriForum Jeug

Die wiskunde is só eenvoudig en vereis nie eens ’n sakrekenaar nie. Volgens statistiek wat AfriForum Jeug vandag as deel van ’n protesaksie, tesame met ’n groot sakrekenaar, aan verteenwoordigers van die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se kantoor oorhandig het, het die Gautengse Onderwysdepartement die jeug in dié provinsie klaaglik misluk. Navorsing toon dat die aantal skole in Gauteng in die tien jaar vanaf 2014 tot 2023 – dieselfde tyd waarin Lesufi vanaf Mei 2014 tot Oktober 2022 as LUR aan die stuur van onderwys in die provinsie gestaan het – van 2 070 skole na 2 061 afgeneem het. Dít ten spyte van Lesufi se vele beloftes (as LUR en meer onlangs as premier van Gauteng) om nuwe skole te bou.

Benewens die daling in die aantal openbare skole in Gauteng, toon die statistiek wat AfriForum Jeug vandag voorgelê het, dat daar tans byna 300 000 meer leerders in dié provinsie is as ’n dekade gelede.

Phumelele Mqina enMxolisi Xayiya van die Gauteng Premierskantoor en lede van AfriForum Jeug tydens die oorhandiging.

AfriForum Jeug hou vol dat Gautengse Onderwysdepartement en Lesufi die toets, om ’n beter toekoms vir Gautengse skoolgaande jeug te skep, jaar na jaar dop. Die jeugorganisasie voer daarbenewens aan dat Lesufi en die provinsiale Onderwysdepartement as voorstanders van die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette 32 van 2024 (Bela-wet) daarin misluk het om genoegsame skoolruimtes te skep en nou Afrikaanse skole vir dié onvermoë wil straf met die implementering van Artikels 5 en 6 van die Bela-wet. Dié artikels is daarop gemik om die finale besluitnemingsmagte oor skole se toelatings- en taalbeleid in die hande van provinsiale onderwyshoofde te plaas.

Volgens Louis Boshoff, AfriForum Jeug-woordvoerder, het Lesufi onder meer in 2014 beloof om een skool per week op te rig en weer in 2020 beloof om 100 nuwe skole te bou. Die netto-uitkoms van dié boubeloftes is egter nege minder skole as wat daar in 2014 was.

“Dit is skreiend om aan te voer dat daar deur middel van Bela plek gemaak moet word vir ander tale en meer kinders in Afrikaanse skole, terwyl die werklike oplossing – om nuwe skole te bou – reeds geïdentifiseer én belowe is, maar nie uitgevoer word nie,” verduidelik Boshoff.

AfriForum Jeug hou vol dat die onderwyskrisis in Gauteng slegs opgelos kan word as nuwe skole opgerig word en bestaande skole onder die toesig en bestuur van demokraties verkose beheerliggame gelaat word. “Die onderwyskrisis in Gauteng is te danke aan verskeie amptenare se nalatigheid, maar as een persoon uitgesonder moet word, dan is dit Panyaza Lesufi. Daarom het AfriForum Jeug besluit om vandag die statistiek by sý kantoor te oorhandig,” verduidelik Boshoff.

Teenstand teen Artikels 5 en 6 van die Bela-wet neem sterk toe, meen Boshoff, en is sigbaar in uiteenlopende dele van die Afrikaanse gemeenskap. “As jong Afrikaners is ons seker dié deel van die samelewing vir wie dit die belangrikste is dat hierdie artikels geskrap moet word, want dit kan ons en ons kinders se toekoms bepaal,” sluit Boshoff af.

’n Dag van Protes teen die implementering van die genoemde twee artikels is onlangs deur Afrikaanse organisasies afgekondig en sal onder meer ’n massa-optog vanaf die Voortrekkermonument na Freedom Park op 5 November insluit. AfriForum Jeug sal ook aan dié protesgeleentheid deelneem om hul steun vir die afskaffing van Artikels 5 en 6 te wys. Besoek www.belaprotes.co.za vir meer inligting of om te registreer vir die optog.