Stellenbosch_University

AfriForum Jeug wag op uitspraak in appèl teen onbillike diskwalifikasie van Afrikaanse SR-lid op Stellenbosch

Uitspraak in AfriForum Jeug se appèl teen die onbillike diskwalifikasie van Jolene le Roux, ’n pro-Afrikaanse lid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Studenteraad (SR), sal na verwagting vandag gelewer word. Die jeugorganisasie hou vol dat Le Roux op grond van haar verbintenis tot die bevordering van Afrikaans by Maties geteiken word en staan gereed om die saak verder te voer indien die appèl sou misluk.

Le Roux se diskwalifikasie volg na aanleiding van aantygings dat sy tydens die SR-verkiesingsveldtog onregverdige voordeel getrek het uit ’n Nasionale Vrouedagviering wat AfriForum Jeug aangebied het, en dat sy – met ’n plasing oor die aksie op AfriForum Jeug se Instagram-blad – die universiteit se verkiesingskommissiereëls oortree het. Die universiteit se Verkiesingskommissie (VK) het haar egter vroeg in September skriftelik in kennis gestel dat besluit is om die klagtes teen haar van die hand te wys, aangesien ’n besluit om haar te diskwalifiseer, ongrondwetlik sou wees.

Kort nadat daar op 5 September aangekondig is dat Le Roux tot die SR verkies is, is sy egter ingelig dat ’n aansoek om haar as SR-lid te diskwalifiseer by die studentehof gemaak is. Volgens dié hof se uitspraak wat op 5 Oktober gelewer is, het Le Roux Artikel 3(7)(a) van die universiteit se verkiesingsreëls oortree. Dié artikel bepaal dat SR-kandidate nie enige eie fondse of borgskappe deur sosiale media vir bemarking tydens die SR-verkiesingsveldtog mag benut nie. AfriForum Jeug se appèl volg in reaksie op dié uitspraak.

“Hierdie diskwalifikasie bevraagteken nie net die meriete van Le Roux se kandidatuur nie, maar ondermyn ook die vertroue wat baie studente in haar gestel het om hul belange te verteenwoordig. Indien die appèlproses misluk, sal dit ernstige uitsluiting van veral Afrikaanssprekende studente tot gevolg hê, aangesien hul stem op die SR stilgemaak sal wees,” sê Yvonne Gerber, AfriForum Jeug-ontwikkelingsbeampte.

Wian Spies, lid van AfriForum Jeug se regspan en prokureur van Hurter en Spies, meen die besluit om Le Roux te diskwalifiseer ná haar suksesvolle verkiesing tot die SR en die oorspronklike besluit om die klagtes van die hand te wys, laat vrae oor die deursigtigheid en billikheid van die verkiesingsproses. “Die studentehofuitspraak wek ernstige kommer oor regverdigheid en behoorlike prosesse. Omdat Le Roux geen voordeel uit die AfriForum Jeug-geleentheid getrek het nie, kan die agenda vir haar diskwalifikasie met reg bevraagteken word,” verduidelik Spies.