rasse petisie
| DeurAfriForum

AfriForum JeugAfriForum Jeug veroordeel EFF se bevordering van rassisme, verdeeldheid en geweld by Tuks

AfriForum Jeug dring aan op deregistrasie van studentevereniging

Dit is ’n duidelike en daadwerklike oproep tot geweld teen ’n minderheidsgroep en hits rassisme, verdeeldheid en vyandigheid tussen studente aan. Só beskryf AfriForum Jeug die EFF se studentevereniging, EFF Student Command (EFFSC), se optrede tydens ’n openbare lesing wat die EFF-leier, Julius Malema, Vrydag 11 Oktober op die hoofkampus van die Universiteit van Pretoria (UP) aangebied het. Tydens dié lesing het EFFSC-lede onder meer “Kill the Boer, kill the farmer” gedreunsing. AfriForum Jeug veroordeel dié optrede ten sterkste en herhaal sy vroeëre beroep op die deregistrasie van die EFFSC as ’n erkende studentevereniging.    

AfriForum Jeug eis voorts dat UP-bestuur ’n formele, geskrewe verskoning aan UP-studente maak aangesien die universiteit goedkeuring vir dié geleentheid gegee het ten spyte van Malema se geskiedenis van rasseverdeling en diskriminerende retoriek wat in stryd staan met die universiteit se beleid vir die bevordering van ’n inklusiewe en niediskriminerende omgewing.

“Om ’n spreker met ’n reputasie vir die bevordering van rassisme en verdeeldheid te nooi, was nie net onverantwoordelik nie, maar dui ook op ’n diepe gebrek aan respek vir studente wat reeds deur die EFFSC se wangedrag geteiken word,” sê Yvonne Gerber, jeugontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug.

Die EFFSC was die afgelope vyf jaar betrokke by verskeie voorvalle van rassisme, intimidasie, ontwrigtende protesoptrede en geweld by UP. Hierdie gedrag ondermyn, volgens Gerber, kampusveiligheid en eenheid en kom neer op ’n oortreding van die UP-studentebestuursgrondwet. “Daar is ruimte vir vryheid van uitdrukking spraak, maar dit mag onder geen omstandighede haatspraak of die aanhitsing van geweld behels nie. Die UP-studentebestuursgrondwet se handves van studenteregte ag gelykheid as ’n reg, en tog laat die universiteit toe dat ’n groep wat die reg blatant minag, steeds vryelik op kampus kan funksioneer,” voeg Gerber by. “Die universiteit se versuim om die EFFSC se herhaaldelike oortredings onder die loep te neem, is onaanvaarbaar en beslissende stappe moet gedoen moet word om studente teen verdere skade te beskerm. Haatspraak, rassisme en geweld op kampusse mag nie genormaliseer word nie.”

Maree van den Berg, woordvoerder van AfriForum Jeug se Tuks-tak, beklemtoon die erns van die situasie: “Om vir ’n persoon, bekend vir die rassespanning en verdeeldheid wat hy kweek, ’n geleentheid te gee om ’n lesing op kampus aan te bied, is absoluut verregaande. Die universiteit keur daarmee as’t ware die aanhitsing tot geweld en rassisme goed.”