Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1
| DeurAfriForum

Bestuur swyg steeds oor gebrek aan veiligheid by TUKS

Die AfriForum Jeug studentevereniging aan die Universiteit van Pretoria (UP) doen ’n dringende beroep op die universiteitsbestuur om die veiligheid van alle studente op kampus te prioriseer deur die Economic Freedom Fighters Student Command (EFFSC) as ’n erkende studentevereniging te deregistreer. Die gebeure op kampus die afgelope jaar, veral met betrekking tot die EFFSC se ontwrigtende aksies by TUKS, het die jeugorganisasie diep bekommerd gelaat oor die veiligheid en welstand van studente.

Oor die afgelope vyf jaar is die EFFSC verbind met verskeie gevalle van geweld, rassediskriminasie en onrus by TUKS. Verlede jaar, op 26 September, het lede van die EFFSC studente verhoed om die kampus te betree. Dit was deel van ’n reeks gewelddadige protesoptredes wat padversperrings, vandalisme en teistering van studente ingesluit het. Ten spyte van verskeie oproepe vanaf organisasies soos AfriForum Jeug en die Democratic Alliance Student Organisation (DASO), het die universiteitsbestuur versuim om stappe te neem om die EFFSC as ’n kampusvereniging te deregistreer. Instede word daar toegelaat dat studente verder aan hierdie soort onrus blootgestel word. Dit word bewys in die openbare lesing oor politieke onderrig wat EFFSC toegelaat word om vandag by die Thuto-gebou aan te bied. Julius Malema, omstrede leier van die EFF, gaan hiertydens as hoofspreker optree. Malema is bekend vir sy oproerige retoriek, insluitend openbare uitsprake wat alewig verdeeldheid en rassespanning op kampus veroorsaak. Krete soos “Kill the Boer” en oproerige gedrag in die algemeen hits ’n atmosfeer van vyandigheid en intimidasie op kampus aan.

“Die EFF is bekend vir sy gewelddadige gedrag en dat hy, veral op kampusse, verdeeldheid en haat onder die studente saai. Daar behoort nie ruimte te wees vir só groepe by TUKS nie, daarom moet die universiteitsbestuur dadelik aandag aan AfriForum Jeug se versoek skenk,” sê Maree van den Berg, woordvoerder van AfriForum Jeug se TUKS-tak.

Hierdie sentiment is deur Yvonne Gerber, jeugontwikkelingsbeampte by AfriForum Jeug, beaam. Sy benadruk dat studente se akademiese prestasie daaronder ly as hulle gedurig oor hul veiligheid bekommerd is. “Aangesien sekere groepe steeds toegelaat word om die kampus te ontwrig, is dit duidelik dat die veiligheid van studente nie vir TUKS se bestuur ’n prioriteit is nie.”

Kommer onder die studente groei as gevolg van die universiteit se voortdurende ondersteuning van die EFF se teenwoordigheid. Veiligheid moet die universiteit se hoogste prioriteit wees, maar dis duidelik dat die huidige bestuur daarin misluk om sy studente te beskerm. Ter wille van alle studente word ’n beroep op die universiteit gedoen om groepe soos die EFFSC, wat geweld en rassehaat aanhits, as ’n erkende studenteverenigings op kampus te verwyder.