Afrikaans Hoër Meisieskool, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne
| DeurAfriForum

Vandag se jeug, môre se leiers – só help AfriForum hul vorm

AfriForum Jeug het op 3 Oktober in samewerking met AfriForum se afdeling vir Jeugleierskap en Ontwikkeling ’n leierskapsontwikkelingssessie aan gr. 11-leerders van Gauteng aangebied. Altesaam 40 nuutverkose leerlingsraadslede van ses spogskole in Gauteng – Afrikaans Hoër Meisieskool Pretoria, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Noordheuwel, Hoërskool Centurion en Hoërskool Eldoraigne – het die geleentheid bygewoon en wys geword oor die soort leiers wat hulle is en hoe om daarop te bou en verbeter.

“Die Toekomsskeppers-projek is ’n inisiatief deur AfriForum wat daarop gemik is om jongmense die nodige vaardighede te leer om hul toekoms in hul eie hande te neem,” sê Tania Scheepers, projekassistent vir onderwys by AfriForum. “AfriForum glo daarin om sterk jong leiers te kweek wat geleenthede in hul gemeenskappe skep.”

Die twee gassprekers, Hui-Mari Meyer (WIRED – Flip The Switch) en dr. Chris Lombard (bestuurskonsultant verbonde aan die Noordwes-Universiteit se besigheidskool), het spesifiek gefokus op verskillende leierskapstyle en die belangrikheid daarvan om jou eie leierskapbenadering te verstaan. Meyer het aan die leerders verduidelik dat daar vier hooftipes temperamente en verskeie kombinasies daarvan is, wat elkeen ’n unieke leierskapstyl ondersteun. Haar sessie het die leerders gehelp om hul eie sterkpunte en uitdagings beter te verstaan. Lombard het hierop voortgebou deur te illustreer wat sterk en swak leierskap in die praktyk behels en praktiese wenke verskaf oor hoe om ’n positiewe leier te wees wat ’n blywende impak maak.

“Die leierskapsontwikkelingssessie was ’n inspirerende ervaring wat my toegerus het met nuwe insigte oor leierskap en samewerking. Dit het my visie versterk om as leier betekenisvolle veranderinge te dryf en ander te inspireer. Ek sal dit vir seker aanbeveel vir hoërskoolleerders wat in die toekoms leierskaprolle gaan moet vul,” sê Amoré Knoetze, hoofmeisie van Afrikaans Hoër Meisieskool.

Yvonne Gerber, beampte vir jeugontwikkeling by AfriForum Jeug, sê dis verblydend om te sien dat soveel skole ingekoop is in hierdie AfriForum-inisiatief en hul leerders die geleentheid gee om dit by te woon. “Die jeug is belangrik en met elk van hierdie sessies belê AfriForum in die land se toekomstige leiers en hul persoonlike ontwikkeling.”