Hessekwa Skoonmaak 1
| DeurAfriForum

Papiere, koshouers, plastiekbottels tydens skoonmaakprojek opgetel

Die AfriForum Jeug-tak in Hessekwa het in September twee baie suksesvolle skoonmaakprojekte gehou waartydens sowat 45 sakke vullis eindelik verwyder is.

Die jeug-tak het op 21 September in samewerking met AfriForum se Riversdal-buurtwag, Riversdal se strate ingevaar en in Hoof- en Kerkstraat verskeie sakke vullis opgetel, voordat hulle na die treinspoor verskuif en daar verder skoongemaak het.

’n Week later het die jeug-tak op 28 September Hoof, Stasie- en Kerkstraat in Albertinia skoongemaak. Hierdie aksie het in samewerking met AfriForum se Albertinia-plaaswag, die Albertinia-gemeenskapspolisiëringsforum en gemeenskapslede plaasgevind. 

Die 45 sakke vullis wat verwyder is, het hoofsaaklik uit lekkergoed papiere, leë wegneemkoshouers en plastiekbottels bestaan. Verskeie gevaarlike glasstukke en gebreekte bottels is ook opgetel, sowel as ander skerp voorwerpe. Volgens Ian Grobbelaar, die voorsitter van AfriForum Jeug se Hessekwa-tak, is dit skrikwekkend om te sien hoeveel rommel gestrooi word. “Ons is trots op ons dorpe en sal aanhou om aksies soos hierdie te begin om ’n skoner en veiliger omgewing vir almal te skep,” sê Grobbelaar. “Selfs net ’n paar sakke vullis wat opgetel word, maak alreeds ’n groot verskil. Ons moedig graag die jeug van gemeenskappe aan om eienaarskap van hul omgewings te neem en hierdie voorbeeld te volg.”

Die jeug-tak beplan ook om binnekort ’n opvolg-projek in Heidelberg te hou en daar ook vullis op te tel. AfriForum Jeug streef daarna om jongmense te inspireer om hulself en hul gemeenskappe op te hef. Raak vandag nog betrokke by AfriForum Jeug en maak ’n verskil in jou dorp. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of bel hom by 081 216 9602.