1-A-campus
| DeurAfriForum

AfriForum Jeug gee regspan opdrag om namens groep Afrikaanse Maties op te tree ná herrie om SR-verkiesing losbars

Pogings om Afrikaans selfs verder te verdring by die Universiteit Stellenbosch (US) het volgens AfriForum Jeug vandeesweek nuwe hoogtes bereik toe ’n herrie rondom ’n groep Afrikaanse studenteraadkandidate (SR-kandidate) losgebars het. AfriForum Jeug het intussen sy regspan opdrag gegee om namens dié groep op te tree wat moontlik uit die SR-wedloop geskors kan word nadat hulle op sosialemediaplatforms as pro-Afrikaanse kandidate promoveer is.

Die platforms bekend as “Stellenbosch staan op” en “Studenteplein” het in hul eie hoedanigheid opgetree om hul sosialemediavolgers aan te moedig om aan vanjaar se SR-verkiesing deel te neem en om spesifiek vir dié groep Afrikaanse studente te stem.

Die US-verkiesingskommissie het in reaksie hierop die groep studente by die studentehof aangekla en gevra dat die groep gediskwalifiseer word van die verkiesing. Die studente se verkiesingsveldtog was volgens die kommissie strydig met die Studentegrondwet en die universiteit se verkiesingsreëls. Hulle is sonder enige kennisgewing by die studentehof verkla en daar is geëis dat hulle van die verkiesing gediskwalifiseer moet word.

Die studentehof het egter, weens ’n tekort aan bewyse, teen die verkiesingskommissie beslis. Ten spyte van die beslissing het die kommissie reg in eie hande geneem en die studente op 28 Augustus in kennis gestel dat hulle 24 uur tyd gegee word om bewyse te lewer vir waarom hulle nie gediskwalifiseer moet word nie. Dié kennisgewing was die eerste inligting wat die betrokke studente oor dié debakel ontvang het. Die tydperk vir terugvoer het intussen gister teen omstreeks 11:30 verstryk.

Wian Spies, prokureur by Hurter Spies en lid van AfriForum Jeug se regspan, hou vol dat die onus nie op die studente moet berus om hul onskuld te bewys nie. “Dit is die verkiesingskommissie se verantwoordelikheid om te bewys dat die groep, met die uitsluitlike doel om hul verkiesingsveldtog te bevorder, betrokke was by die platforms wat hul as kandidate bemark het,” sê Spies. Hy het in sy skrywe aan die verkiesingskommissie daarop gewys dat die studente nie die Studentegrondwet of die universiteit se verkiesingsreëls oortree het nie en dat die proses wat tot dusver in die verband gevolg is, onreëlmatig en onwettig is.

“Dit is nie die eerste keer is wat US poog om Afrikaanse studente te onderdruk nie,” verduidelik Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug. “Die proses wat die verkiesingskommissie tot dusver gevolg het, is tekenend van die universiteit se partydigheid, onregverdigheid en diskriminerende benadering teenoor Afrikaans en Afrikaanse studente.”

Die uitslae van die SR-verkiesing sal intussen eers aangekondig word wanneer die ondersoek na die aangeleentheid afgehandel is.