Pukke

Wessels-verslag is ’n mensregteskending

AfriForum Jeug het vandag sy kommer uitgespreek oor die growwe diskriminerende uitlatings wat in die Wessels-verslag van die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit, wat uitgelek het, vervat is.

Die Wessels-verslag vorm deel van die finale raadsverslag wat verlede week aan die minister van hoër onderwys oorhandig is.

Die Wessels-verslag verwys na die “probleem” by die NWU as studente wat uit hoërskole met ʼn “Afrikaner-grondslag” kom, en maak die aanbeveling dat ʼn proses van “normalisering” “afgedwing” word waarin Afrikaners “verdun” en “verwyder” moet word.

“Die inligting in die Wessels-verslag wys duidelik dat hierdie verslag diskriminerend is teenoor Afrikaners. AfriForum Jeug poog steeds om die finale verslag te bekom om seker te maak dat die rassistiese en diskriminerende uitlatings in die verslag, wat Afrikaners as ’n gemeenskap se menswaardigheid aantas, nie in ag geneem word nie,” het Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê.

“Die Wessels-verslag se inhoud is nou ’n menseregtekwessie wat eers aandag moet geniet voordat enige verdere stappe met die ondersoek geneem kan word. Ons kan nie ’n Suid-Afrika aanvaar waar gemeenskappe se identiteit afgetakel word nie,” sê Maree.

AfriForum Jeug se regspan is reeds vanaf laas week besig met onderhandelinge met die NWU-Puk se bestuur om die inligting van die finale verslag te bekom. Die rede vir die aansoek tot die verslag is om te bepaal in watter mate die verslag deel uitmaak van die finale verslag.

“Ons waarsku teen radikale organisasies wat die Wessels-verslag  vir politieke doeleindes probeer gebruik om Afrikaans ’n slag te probeer toedien,” het Maree afgesluit.