VW beskuldig van rassistiese toelatingsbeleid

 

VW - logo

AfriForum Jeug het gister ’n skrywe aan sowel Volkswagen (VW) Suid-Afrika as Volkswagen se hoofkantoor in Wolfsburg, Duitsland, gerig rakende ’n onlangse advertensie waarin Volkswagen jongmense aanmoedig om aansoek te doen en deel te neem aan ’n kompetisie om ’n Volkswagen-renjaer te word. ’n Lid van AfriForum Jeug wat wou aansoek doen, is nie toegelaat nie omdat hy wit is.

JP Peens, ’n lid van AfriForum Jeug, is direk op grond van die kleur van sy vel uitgesluit. “Ek is bitter teleurgesteld in die manier hoe Volkswagen Motorsport die situasie hanteer het. Ek is ’n ondersteuner van Volkswagen Motorsport en ry self ook ’n Volkswagen. Ek het gehoop dat die kompetisie my die geleentheid sou kon gee om ’n loopbaan as ’n VW-renjaer te begin, maar omdat ek nie van kleur is nie word ek daardie geleentheid geweier,” sê Peens.

AfriForum Jeug se skrywe vra antwoorde vanaf Volkswagen en eis dat die raskriteria afgeskaf moet word sodat jongmense wat wil inskryf op gelyke voet kan meeding. “Vir etlike jare is swart ekonomiese bemagtiging en transformasieteikens gebruik om teen wit jongmense te diskrimineer, nou word daar blatant nóg verder teen wit jongmense in hierdie advertensie gediskrimineer. Ons kan nie bystaan en toekyk hoe wit jongmense slegs op grond van hul velkleur nie dieselfde geleenthede as ander groepe gegun word nie,” sê Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug.

Die advertensie, wat geplaas is deur Volkswagen, sê dit moet ’n persoon van kleur wees. “Hoe bepaal Volkswagen wie is van kleur? Hoe word bepaal wanneer ’n persoon gekleurd genoeg of té wit is?” vra Maree.

AfriForum Jeug is van voorneme om Peens by te staan en die gelykheidshof te nader indien Volkswagen nie hul rasgebaseerde toelatingsvereistes vir hierdie kompetisie laat vaar nie.

VW