uv-1

Verslag gee aan UV-studente ʼn stem

AfriForum Jeug het ’n volledige verslag opgestel waarin studente wat die afgelope weke op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) deur geweld geraak is, hul verhale kon vertel.

Hierdie verslag is opgestel deur ’n prokureur wat deur AfriForum Jeug aangestel is om te verseker dat alle gevalle aangemeld word waar enige student geïntimideer, gedreig of met geweld gekonfronteer is. Dit vorm ook deel van ’n aksieplan wat op 2 Maart 2016 tydens AfriForum Kovsies se massavergadering saam met studente opgestel is om hul bekommernisse oor die vorige week se betogings onder die loep te neem.

“Die gebeure op 22 Februarie tydens die Varsity-bekerstryd op Shimlapark, asook  die nadraai daarvan word in hierdie stadium slegs vanuit een perspektief vertel. Ons wil seker maak dat elke voorval en elke student se weergawe daarvan aangeteken  word,” het Marike van As, AfriForum Kovsies se kampuskoördineerder, gesê.

AfriForum Jeug is van mening dat ’n klein minderheidsgroep die kampus vir politieke gewin probeer destabiliseer en dat die oorgrote meerderheid van die bykans 32 000 studente wat aan die UV studeer nie hieraan wil deelneem nie.

Gevalle waar studente ná die rugbywedstryd aangerand is, in hulle koshuise gyselaar gehou is of met die dood gedreig is, is ook by AfriForum Jeug aangemeld. Studente met soortgelyke klagtes word aangemoedig om ’n e-pos na kovsies@afriforum.co.za te stuur sodat dit deel van die verslag kan vorm.