UV

UV-regspan erken: Geweld troef die Grondwet

In die regsaak van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit teen die Universiteit van die Vrystaat  (UV) wat vandag in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor is, het UV se regspan erken dat die besluit op ’n nuwe taalbeleid wat Afrikaans as medium van onderrig aan die instelling uitrangeer, nie weens finansiële redes geneem is nie, maar omdat Afrikaans volgens hulle tot segregasie lei.

Volgens Johan Kruger, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, gee die UV se bestuur hiermee in wese toe dat geweld die Grondwet troef.

“Die feit is dat Afrikaans, wat hier prakties aangebied word soos in die Grondwet bedoel, voor anargie moet buig. Dit is ’n politieke spel wat as ’n taalkwessie vermom word.”

Die UV sê dat dit nie redelik prakties is om met Afrikaanse onderrig aan te gaan nie, want die kampus brand. “Die interpretasie van die Grondwet kan volgens hulle dus nie wees soos in die Romeinse tyd dat regspleging sal geskied selfs al val die hemel nie, maar dat dit eerder die knie voor anargie moet buig,” sê Kruger.

 

Alana Bailey, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof, beklemtoon dat geen reg bevorder kan word deur ’n ander reg weg te neem nie. UV bied parallelmedium-onderrig aan en geen student word van ’n studiegeleentheid ontneem omdat ‘n ander student se reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig gerespekteer word nie.

“As besluite in die land deur geweldsdreigemente gedryf word, kan ons nie langer voorgee dat dit ‘n demokrasie is nie. Dis die groter agtergrond waarteen die saak plaasvind.”

 

Uitspraak is voorbehou.