Prof_-Jonathan-Jansen-282x200-1

UV en prof. Jansen vir miljoene gedagvaar

Die balju het aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) en prof. Jonathan Jansen se deur geklop met ʼn dagvaarding van meer as R6 miljoen. Dít, nadat AfriForum Jeug sy regspan opdrag gegee het om voort te gaan met die dagvaarding namens Cobus Muller en Charl Blom in ʼn saak van laster en prosedurele onbillikheid.

Muller en Blom, oudstudente van die UV, eis skadevergoeding nadat hulle verlede jaar van poging tot moord aangekla is, nadat hulle byna ʼn swart medestudent met hul voertuig op die kampus raakgery het. In dié tyd is hulle openlik as misdadigers gebrandmerk. Die hof én die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het hulle egter onskuldig bevind.

Hulle eis R6,15 miljoen. Dit behels ʼn skadevergoedingeis wat verkwiste uitgawes en vertraagde toetrede tot die arbeidsmark insluit asook ʼn laster-eis.

“Die boodskap wat ons namens die oudstudente uitstuur is dat niemand onaantasbaar is nie. Te veel studenteleiers of persone in gesagsposisies dink hulle kan sê en doen wat hulle wil sonder nagevolge,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Die UV en prof. Jansen het vroeër ʼn brief aan AfriForum Jeug se regspan gestuur waarin hulle alle aanspreeklikheid ontken.