Maties-1

US-verkiesingshoof sê studentehof tree buite magte op

Calumet Links, die hoofverkiesingsbeampte van die Universiteit van Stellenbosch (US) se verteenwoordigende studenteraad (VSR), het in ’n verslag wat by die studentehof ingedien is, bekend gemaak dat dié hof bloot met hofverrigtinge voortgegaan het en dat hy van sy funksie ontneem is om klagtes van oortredings van verkiesingsreëls te ondersoek.

Dít volg nadat agt AfriForum Jeug-kandidate vir die VSR van die US op ’n onbillike wyse en sonder geldige redes van die verkiesing uitgesluit is, en dié burgerregte-organisasie ’n dringende aansoek in die Kaapse hooggeregshof gebring het om die US te dwing om die VSR-verkiesingskandidatuur van dié kandidate te herstel.

Links se verslag meld verder dat die klaers nie die korrekte prosedure gevolg het om hul saak voor die hof te plaas nie omdat verkiesingsbeamptes nie 24 uur gegee is om die saak te ondersoek nie.

Bernard Pieter, VSR-voorsitterskandidaat, meen die US volg nie eers die studentegrondwet wat die studentehof as liggaam skep nie en tree geheel en al buite hulle magte op. Die verslag stel verder dat die studentehof onnodig in die VSR-verkiesing ingemeng het.

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het op Vrydag, 19 Augustus 2016 gelas dat die US vandag redes vir die studentehof se beslissing moet verskaf. AfriForum Jeug het reeds dié redes ontvang en werk nou daardeur vir kommentaar. Die bevel het verder gelas dat die US nie met ’n VSR-verkiesing mag voortgaan voordat hierdie aangeleentheid afgehandel is nie.