JH-Marais-scaled

Universiteit van Stellenbosch veroordeel studente wat erfenis herdenk ten koste van EFF

Die Universiteit van Stellenbosch het hom vandag uitgespreek teen studente wat deur AfriForum Jeug genooi is om 12:00 by die J.H. Marais-standbeeld op kampus vir ’n vreedsame herdenkingsaksie bymekaar te kom. Die universiteit meen dat dié studente ’n risiko vir geweld inhou omdat die EFF vandag by die universiteit betoog.

Volgens Marcus Pawson, AfriForum Jeug se woordvoerder, moet ’n mens na die geskiedenis kyk om te verstaan waarom geweld deur partye soos die EFF in ’n ernstige lig beskou moet word. “Dit begin dalk met standbeelde, boeke en kuns, maar dit volg met mense.”

“Hoe kan studente wat vreedsaam kuier en herdenk, geweld veroorsaak? Dis waar dat die EFF gedreig het om die standbeeld af te brand, maar ons is vandag hier om in vrede die erfenis van ons kampus te vier,” het Pawson verduidelik.

Pawson meen dat die universiteit se bestuur besig is om groepe op kampus te polariseer deur eensydig op te tree. ’n Voorbeeld hiervan is toe die bestuur vantevore toegekyk het hoe die EFF en Open Stellenbosch dieselfde standbeeld beskadig het sonder om teen hulle op te tree.

“Die universiteit het onderneem dat daar genoeg sekuriteit en polisie op kampus teenwoordig sal wees om kultuurskatte soos die standbeeld te beskerm. Ons sal daarom met ons herdenkingsaksie voortgaan en die situasie monitor.”