Jonathan-Jansen

Twee oud-Kovsies eis R1 miljoen van rektor

AfriForum Jeug se regspan het ’n eisbrief op professor Jonathan Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat (UV) beteken waarin Cobus Muller en Charl Blom, oudstudente, skadevergoeding van R1 miljoen van prof. Jansen en die UV eis. Die partye is twee weke gegee om die eis uit te betaal.

Dít, nadat Muller en Blom verlede jaar van poging tot moord aangekla, en deur die hof asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie onskuldig bevind is.

“Muller en Blom is geskors en geen geleentheid gegun om hul kant van die saak te stel nie. In hierdie tyd is hulle openlik uitgemaak as misdadigers en is sonder prosedure of verhoor van die kampus verban. Hulle kon nie hul nagraadse studies voortsit of hul gradeplegtigheid bywoon nie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug. 

Die oudstudente eis R500 000 elk vir die vermoënskade en injuria wat hulle gely het. Dit sluit verkwiste uitgawes, vertraagde toetrede tot die arbeidsmark en ’n aantasting van hul menswaardigheid en reputasie (dignitas en fama) in.

Die eisers beroep hulself op Artikels 9 (Gelykheid), 10 (Menswaardigheid), 29 (Onderwys) en 33 (Regmatige en Billike Administratiewe Optrede) van die Grondwet.

“Persone in magsposisies moet verantwoordelik en onpartydig optree. Twee studente se toekoms kan nie die prys vir politieke gewin wees nie, juis daarom is dit vir ons van groot belang as jeugorganisasie om Muller en Blom by te staan,” sê Maree. 

Indien die eisbedrag nie binne die twee weke betaal word nie, sal ʼn dagvaarding teen prof. Jansen en die UV uitgereik word.