#TuksSoWhite-veldtog: AfriForum Jeug dankbaar vir ondersoek

AfriForum Jeug wil die bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) bedank na hulle onderneem het om die South African Students Congress (Sasco) se #TuksSoWhite-veldtog te ondersoek en stappe te neem indien nodig. 

Die sosiale-media-veldtog wat op Facebook en Twitter gedryf word maak onder meer stellings soos white students do not even experience loadshedding en Afrikaaner students still think they run this country, reality is they don’t, they remain a minority (which is a fact) and the university should not be catering for a minority. 

Rochelle Oosthuyse, woordvoerder van AfriForum Jeug se Tukkies-tak, sê dié stellings word in die algemeen deur studente as vals en rassisties beskou.

Tydens ʼn vergadering met die verteenwoordigende studenteraad (VSR) se president, Mosibudi Rebotile Rasethaba, het hy gesê dat die #TuksSoWhite-veldtog deur wit studente in konteks gesien moet word en dat hy die veldtog ten volle ondersteun. Hy het bygevoeg dat indien ʼn #TuksSoBlack-veldtog sou ontstaan, dit as rassisties beskou sal word deur die VSR.

AfriForum Jeug het egter gister tydens ʼn vergadering met UP se bestuur die volgende ooreengekom:

  • Dat organisasies soos Sasco, PYA (Progressive Youth Alliance) en ARF (Anti-Racism Forum) se beleide dringend ondersoek moet word.
  • Dat daar opgetree moet word teen die betrokke organisasies, spesifiek Sasco en die ARF, oor hulle uitlatings in sake #TuksSoWhite.
  • Dat daar ondersoek ingestel moet word oor die betrokkenheid van die VSR en spesifiek ook Rasethaba en sy ondersteuning van die #TuksSoWhite-veldtog.
  • Die VSR moet ook in die openbaar om verskoning vra.

“Ons wil die bestuur bedank vir hulle samewerking en moedig studente aan om wedersydse respek en erkenning vir mekaar te hê,” sê Oosthuyse.