TUKS-bestuur begrawe nóg ’n tradisie

Die Universiteit van Pretoria (UP) se bestuur het op Woensdag, 17 September 2014 besluit om die jaarlikse Pot & Pons-koshuistradisie, ’n instelling van TuksJool in samewerking met TuksRes, te kanselleer.

“Nadat ons talle klagtes oor die moontlike afskaffing van Pot & Pons ontvang het, het ons ʼn skrywe aan prof. Mosia, visekanselier van studentesake, gerig waarna die departement van studentesake ʼn vergadering tussen AfriForum Jeug en TuksJool geroep het,” het Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug, gesê.

Volgens Oosthuyse het die departement aangevoer dat alkohol tydens vorige Pot & Pons-aksies misbruik is en dat dít die hoofrede was vir die besluit om die tradisie af te skaf.

Die uitvoerende bestuur van TuksJool het ʼn voorlegging saamgestel met veiligheidsmaatreëls om alkohol-misbruik te beperk, wat tydens die vergadering bespreek is. Een van die voorstelle in die voorlegging is dat pons slegs elke twee ure tydens die aksie bedien sou word. Die alkoholpersentasie in die pons is ook drasties verminder. Die voorlegging is egter die volgende dag deur prof. Mosia van die hand gewys.

“Ondanks die feit dat ons met nuwe idees rakende verantwoordelike alkoholverbruik na vore gekom het, was daar geen tegemoetkoming of akkommodering van die bestuur se kant af nie. Waar daar vantevore ’n dag van kultuur, pret en eenheid was, is daar nou ’n groot leemte,” het een van die lede van TuksJool gesê.

Luidens ’n brief wat deur prof. Mosia uitgereik is, sien die universiteitsbestuur nie die waarde van die geleentheid in nie. Die tradisie is volgens die brief ook nie in lyn is met die visie, missie en waardes van die UP is nie. Die brief sê ook dat die UP voortaan in die beste belange van hul studente sal optree, selfs al stem studente nie met die besluite saam nie.

Cassie Rossouw, Jool HK-lid van die Mopanie-manskoshuis, het hierop geantwoord dat: “Tukkies streef na een van hulle eie doelwitte sonder om die studente se reaksie in ag te neem.”

Volgens Oosthuyse is daar groot ontevredenheid omdat besluite weereens deur die UP-bestuur geneem is sonder enige kommunikasie of bespreking met die studente wat deur die besluit geraak word. “Ons kan nie sien waarom so ’n tradisieryke dag weggeneem moet word nie. Ons belofte aan studente is om te baklei vir gesonde studentetradisies en dus sal ons aanhou vra vir meer gegronde redes, veral omdat maatreëls in plek gestel is.”

Daar is reeds sprake van verdere veranderinge wat by die Jool gaan plaasvind.