“Tomstraat” in Potchefstroom word heringestel as amptelike straatnaam, na onlangse verandering na Steve Biko

AfriForum Jeug het die bekende “Tomstraat” (ook bekend as Steve Bikostraat) in Potchefstroom vandag opnuut ingehuldig as die amptelike en korrekte naam van die betrokke straat.  By die geleentheid, waar AfriForum Jeug se tak in Potchefstroom amptelik gestig is, is nuwe straatborde met die woorde “Tomstraat”, sowel as ʼn groot bord met die woorde, “Welkom in Tomstraat”, onthul en bekendgestel.  ʼn Verskerping van AfriForum Jeug se veldtog teen Potchefstroom se naamsveranderings is ook aangekondig.

Dit volg nadat die plaaslike munisipaliteit besluit het om die naam van Tomstraat na Steve Bikostraat te verander, sonder om enige openbare konsultasieproses te volg.  ʼn Onlangse referendum in die betrokke straat, wat deur AfriForum Jeug gehou is, het aangedui dat 97,4% van die inwoners nie ten gunste van die naamsverandering is nie.

Tanya Kruger, voorsitter van AfriForum Jeug se Potchefstroom-tak, het gesê dat “besluite oor straatname nie by die plaaslike owerhede lê nie, maar by die publiek en die publiek het oorweldigend aangedui dat hulle ten gunste van Tomstraat is.  Ons mag name gee aan strate net soos wat ons name mag gee aan ons kinders en ander plekke wat ons na aan die hart lê.  Dit is egter jammer dat die munisipaliteit in die proses duisende rande gemors het, terwyl daar honger haweloses op straat is.”

By die inhuldiging is die publiek ook gemaan om te praat van “Tomstraat”, eerder as “Steve Biko”, aangesien dit die korrekte naam vir die betrokke straat is.  “Om na die betrokke straat as ‘Steve Bikostraat’ te verwys, kom neer op erkenning en goedkeuring van die stadsraad se ongrondwetlike optrede.”

Kruger het aangedui dat dié tak eersdaags ʼn plan van aksie bekend sal stel en dat ʼn protesaksie by die plaaslike munisipaliteit beplan word.