Thabo-VSR-Tuks-scaled

Studenteraad betaal borgtog vir gewelddadige studente

Dit het onder AfriForum Jeug se aandag gekom dat die 2016 Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) van die Universiteit van Pretoria (UP), borgtog betaal het vir studente wat vroeër vanjaar op dié kampus gearresteer is weens gewelddadige optrede tydens ʼn optog.

“Ten spyte van die hangende klagtes, onder meer klagtes van openbare geweld teen hierdie studente, het die voorsitter van die VSR, Thabo Shingange, die universiteitsbestuur versoek om hul steun aan die studente te gee,” het Henrico Barnard, woordvoerder van AfriForum Jeug Tuks, gesê.

“Die UP-bestuur moet lojaal wees teenoor sy studente en die studenteraad, maar nie steun bied aan studente wat strafregtelike klagtes teen hulle het nie. Dit is nie regverdig teenoor studente wat binne die kampusreëls optree nie. Bestuur behoort hulself nie te vereenselwig met aktiwiteite wat van kampus af plaasgevind en tot strafregtelike klagtes gelei het nie,” het Jaco Grobbelaar, koördineerder van AfriForum Jeug Tuks, gesê.

Die 24 gearresteerde studente se sake is steeds hangend en sal op 19 Julie 2016 vervat word.