Die_skip_University_of_pretoria-1-scaled

UP-student en EFF-leier sê dat wittes doodgemaak moet word

AfriForum Jeug eis dringende en streng optrede – insluitend dissiplinêre aksie en ’n strafregtelike klag – teen ’n student van die Universiteit van Pretoria (UP).

Dit volg nadat mnr. Kabelo Mahlobogwane op 12 Maart 2016 ’n plasing op sy persoonlike Facebook-blad gelaai het wat geweld, haatspraak, rassisme en skade aanblaas. Mahlobogwane het gesê: “THE WHITE HUMAN RACE MUST DIE! We must kill white supremacy, arrogance & privilege. The time for the revolution is now. There’s only 1 race: the human race”.

Volgens sy Facebook-profiel is Mahlobogwane ’n bemarking/webbestuurder en sosiale-/netwerkbeampte by UP se House Docendo, asook ’n studente- laboratoriumtegnikus. Mahlobogwane is ook die leier van die EFF Student Command op kampus en een van die studente wat die afgelope maand by die geweld en stakings op kampus betrokke was.

Die UP-bestuur het op 2 Maart  2016 ’n skrywe uitgestuur om die geweld op kampus aan te spreek en ’n beleid van geen verdraagsaamheid in plek gestel. Dié beleid bepaal duidelik dat studente of werknemers van die universiteit wat hulself aan haatspraak, aanhitsing van geweld en so meer skuldig maak, dissiplinêre en strafregtelike klagtes in die gesig staar.

“Ons sal graag wil sien dat die universiteit streng teen dié student en moontlike werknemer optree en dat hy dissiplinêr en strafregtelik aangekla word,” het Jaco Grobbelaar, AfriForum Tuks se koördineerder, gesê. “Indien nie, sal AfriForum Jeug ’n klag by die Menseregtekommissie teen Mahlobogwane en die universiteit indien sodat die saak verder ondersoek word.”

AfriForum Jeug is ook besig om klagtes teen ander UP-personeellede wat by die geweld op kampus betrokke was, te ondersoek.