Linda-Benz-Mabengwane

SR-verteenwoordiger se kommentaar stook rassespanning

AfriForum Jeug se Pukke-tak het opgemerk dat mnr. Linda “Benz” Mabengwane, ’n prominente lid van die EFF en tans die SR-voorsitter van die NWU se Mafikeng-kampus, tydens ’n SAUK-uitsending sekere opmerkings gemaak het wat haat teenoor wit mense aanhits.

Tydens die onderhoud het mnr. Mabengwane die rassedebat na die NWU se Potchefstroom-kampus geneem en onwaarhede kwytgeraak. Hy het tydens die onderhoud byvoorbeeld genoem dat ’n swart student tydens die verwelkomingproses deur ’n wit student verdrink is. In dié geval het die NWU reeds ’n verklaring uitgereik dat die student verdrink het omdat hy nie kon swem nie.

“Dié tipe kommentaar word versprei met die doel om rasseverhoudinge op kampus te vertroebel en ’n negatiewe persepsie van die kampus te skep,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, gesê.

AfriForum Jeug Pukke het ’n klag by die NWU se menseregtekommissie ingedien sodat hierdie uitsprake ondersoek kan word en dié student tot verantwoording geroep word.

“Die Puk is ʼn plek waar alle studente op kampus welkom voel. Hierdie tipe uitlatings word gemaak om bloot te krap waar dit nie jeuk nie,” het Janli Sonntag, NWU Potchefstroom-kampus se koördineerder, bygevoeg.

Sluit aan by AfriForum Jeug deur PUK na 32687 te SMS (R1 per SMS).