Ou_Lettere_f_Tuks-731x477-1

Slegs Engels-taalbeleid sal UP finansiële skade berokken

AfriForum Jeug is van mening dat indien die Universiteit van Pretoria (UP) sou besluit om ʼn eentalige Engelse universiteit te word, dit tot ernstige finansiële skade sal lei. Dit volg nadat ʼn voorlopige voorstel deur die UP se taalbeleid-werkgroep wat ʼn slegs Engels-taalbeleid voorstaan, die rondte gedoen het. Dít het ook gelei tot AfriForum Jeug se onttrekking aan UP se Transformasiewerkstroom, wat dié taalbeleid-werkgroep insluit.

Volgens Henrico Barnard, AfriForum Jeug se Tuks-woordvoerder, is 14 700 van die 49 000 studente wat by die UP studeer, Afrikaanssprekend. Studiegeld beloop sowat R31 000 per jaar, wat beteken dat Afrikaanse studente jaarliks tot R460 miljoen aan UP betaal.

Na raming ontvang die UP sowat R678 miljoen uit staatsubsidies wat toegeskryf kan word aan Afrikaanssprekende studente.  Dit beteken dat ʼn derde van die universiteit se inkomste, sowat R1,1 miljard, van die Afrikaanse gemeenskap afkomstig is.

Historiese Afrikaanse Universiteite wat weggedoen het met Afrikaans as administratiewe- en onderrigmedium, dien as bewys van die negatiewe finansiële implikasies wat dié besluit op ʼn universiteit het. “Die UP loop dieselfde gevaar indien hulle sou besluit om Afrikaans af te skaf,” het Barnard gesê.

AfriForum Jeug het gesê prof. Niek Grové, registrateur, het al herhaaldelik gesê dat Afrikaans onbekostigbaar raak vir die universiteit. Die universiteit het egter erken dat hulle nie ʼn koste-implikasie van Afrikaans kan gee nie. AfriForum Jeug gaan nou self ʼn beraming hiervan doen.

“As die UP sy rug op die Afrikaanse gemeenskap draai, sal dit ernstige skade aan Afrikaans as taal en sy verhouding met die Afrikaanse gemeenskap aanrig,” meen Barnard.

Hy het gesê die jeugorganisasie is besig om ʼn memorandum op te stel met werkbare taaloplossings wat bekostigbaar, inklusief en meertalig sal wees. “Wat nou nodig is, is dat prof. Cheryl de la Rey, rektor, en Grové die taalbeleid moet toepas wat plek vir alle studente maak.”