rudi

Rudi Buys verlaat die Kovsies-“preekstoel”

AfriForum Jeug verwelkom die nuus dat Rudi Buys nie volgende jaar as Studentedekaan gaan aanbly by die Universiteit van die Vrystaat nie. Die vertrouensverhouding tussen mnr. Buys en Kovsies-studente was van die begin van die jaar af in die gedrang, na die JBM Hertzog-aangeleentheid.

“Daar moet samewerking en vertroue tussen studente en hul Dekaan wees met wedersydse respek as ʼn verpligte bestanddeel. Studente wil weet hulle word geken in die besluitnemingsprosesse van alle sake wat hulle raak,” sê Willie de Waal, die voorsitter van AfriForum Jeug Kovsies.

Volgens dié Jeugorganisasie het mnr. Buys versuim om vir die studente se regte op te staan.

“Dit het eintlik vir studente gevoel of hy meer teen hulle gewerk het as saam met hulle. Ons AfriForum Jeug Kovsies-tak het vroeër vanjaar ’n optog gehou waar ons mnr. Buys versoek het om inligting oor studente, hul koshuise en tradisies vir ons deur te gee voor enige besluite namens ons geneem word. In antwoord daarop het mnr. Buys die “Intervarsity”, wat ʼn jaarlikse instelling saam met die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit was, gekanselleer sonder om dit met studente te bespreek,” het De Waal afgesluit.