062

Rektor dink reëls hoef nie gevolg te word nie

AfriForum Jeug het ’n patroon by prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van Universiteit van Stellenbosch (US), begin waarneem waardeur hy amptelike prosesse keer op keer probeer omseil. Die nuutste daad wat dié waarneming bevestig, is sy besluit om Engels as enigste kommunikasietaal aan die universiteit in te stel.

“Dit is nie die eerste geval waar prof. de Villiers besluite neem sonder om universiteitsregulasies in ag te neem nie. In Oktober vanjaar moes die universiteit die ganse aanstellingsproses van studentedekaan van nuuts begin omdat daar ongerymdhede betrokke was. Dié week het ons gesien hoe hy eensydig ’n besluit neem sonder dat dit voor die universiteitsraad gedien het. Sommige raadslede het eers via die media daarvan te hore gekom. Dit is duidelik dat hy ʼn politieke agenda volg sonder om die reëls en regulasies van die universiteit te volg,” het Morné Mostert, AfriForum Jeug se nasionale verteenwoordiger, gesê.

Prof. de Villiers het boonop in ʼn media-onderhoud gemeld dat hy AfriForum oor die aangeleentheid gekonsulteer het.

“Dit is totaal onwaar. Daar was op géén stadium hieroor met ons gekonsulteer nie; trouens, hy het ons doelbewus daarvan probeer uitsluit. Ons sal egter verseker dat ons stem óók gehoor word,” het Bernard Pieters,  Maties se AfriForum Jeug-takwoordvoerder, gesê.

AfriForum Maties sal ’n versoek aan prof. de Villiers rig om ʼn vergadering te hou waar die Afrikaanse studente ook insette oor die US-taalbeleidkwessie sal kan lewer.