Rassisme aan die orde van die dag by Tuks-koshuise

AfriForum het op Maandag, 21 November 2016, verneem van rassistiese en uitlokkende opmerkings teenoor wit mense wat deur ’n student van die Taaibos-koshuis van die Universiteit van Pretoria (UP) aan die buitekant van sy koshuiskamerdeur aangebring is.

“The Devil is White = F*ck you” en “Keep calm and bring back the Land mother f*ckers” is op 15 en 17 November vanjaar teen die betrokke student se koshuiskamerdeur geskryf.

Hoewel die saak by die koshuisvader aangemeld is, versuim hy om op te tree. AfriForum Jeug het gevolglik ’n klag by die UP ingedien en eis dat die student onmiddellike uit die koshuis geskors word en dissiplinêre aksies teen hom geneem word.

Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tuks-koördineerder, sê dat dit nie die eerste keer vanjaar is dat klagtes oor radikale, rassistiese en aanstootlike uitlatings teenoor wit mense op die UP-kampus gebring word nie.

“Ons sal graag wil sien dat die UP teen studente optree wat geweld en rassisme op kampus aanhits en op dié wyse die universiteit se beleide verontagsaam. Ons het tot dusver geen universiteitsoptrede met vorige voorvalle gesien nie en eis dat die UP strenger hierop reageer.”

Grobbelaar sê voorts dat die betrokke student ’n lid van die Economic Freedom Fighters Students’ Command (EFF SC) op kampus is en dat daar al verskeie klagtes teen lede van dié organisasie gemaak is.

“’n Koshuis is veronderstel om ’n veilige hawe te wees waar studente kan leer, leef en aan ’n gesonde studentelewe kan deelneem sonder om met politiek en rassisme gekonfronteer te word. Privaat koshuise soos De Goede Hoop bied ’n goeie alternatief vir studente wat moeg is daarvoor om politieke slaansakke te wees. Dit is ’n veilige omgewing waar studente net weer studente kan wees sonder om teen hulle wil by politiek betrek te word,” voeg Grobbelaar by.