Ras troef meriete: AfriForum Jeug stig studiefonds om studente te help

Spotprent - AfriForum Jeug

AfriForum Jeug het in samewerking met Solidariteit Helpende Hand ’n Matie-alumni-studiefonds gestig om huidige en voornemende studente aan die Universiteit van Stellenbosch (US) met behulp van alumni-skenkings in staat te stel om te studeer. Studente wat deur dié fonds gehelp word, sal uitsluitlik op grond van meriete gekeur word.

“Die fonds is gestig ná verskeie gevalle aangemeld is waar voornemende studente weens rassediskriminasie nie by hoëronderwysinstellings keuring gekry het nie – uitstekende prestasies ten spyt,” sê Bernard Pieters, Maties se kampuskoördineerder.

Aansoeke om studiehulp sowel as met die keuringsproses sal deur Helpende Hand bestuur word.

“Die regering en universiteitsbesture kan nie met ons geld vertrou word nie. Hulle laat studente met die keuringsproses in die steek omdat ander faktore bó meriete in ag geneem word. Die onus rus op ons om sélf in te gryp en sowel huidige as voornemende studente by te staan en te help om die toekoms te hê wat hulle verdien en waarvoor hulle hard gewerk het,” sê Pieters.

AfriForum Jeug doen ’n beroep om alumni van die US om dié studiefonds te ondersteun.