Arrested

Potchefstroom Landboukollege wil AfriForum Jeug-voorsitter arresteer

Die Potchefstroom Landboukollege het nou tot die uiterste gegaan om te verhoed dat inligting aangaande die kollege se agteruitgang blootgelê word. In die nuutste voorval het die kollege AfriForum Jeug se nasionale voorsitter, Henk Maree, by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangekla van betreding. Dit kom nadat Maree die kollege twee weke gelede besoek het om bewyse in te samel oor die agteruitgang van die kollege na maande se korrespondensie tussen die twee partye en na ʼn aanmaning deur die kollege dat AfriForum Jeug moet bewys waar die probleme by die kollege is, aangesien die kollege aantygings van studente ontken het. 

“Tydens ons besoek het ons geen reëls verbreek nie. Die bestuur se houding laat veel te wense oor. Nadat ons begin foto’s neem het van die terrein en geboue wat steeds na drie jaar sedert AfriForum Jeug se eerste inspeksie nie herstel is nie, het ʼn lid van die kollege se bestuur ons vasparkeer en ons verhoed om verder te gaan. ʼn Ruk daarna is ons versoek om die perseel te verlaat. Ons het aan sy versoek voldoen, aangesien ons alles bekom het wat nodig was,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Maree voer aan dat hy soos ʼn gewone besoeker by die sekuriteitshek ingeteken het en saam met lede van AfriForum Jeug wat by die kollege studeer, die terrein besoek het. AfriForum Jeug het ʼn amptelike tak by die Potchefstroom Landboukollege.

“Ek vind dit belaglik dat die kollege nie eers die moeite doen om die klagtes self te ondersoek nie, maar aanvoer ons moet dit ondersoek, en ons dan boonop nog konfronteer en klagtes lê as ons die bewyse gaan bymekaarmaak,” het Maree gesê.

Geen verandering of verbetering is aangebring vandat AfriForum Jeug begin het om die klagtes vanaf studente te hanteer nie. Tydens die argument het die lid van die kollegebestuur aangevoer dit is disrespekvol van AfriForum Jeug om op die kollegeterrein te wees sonder die kennis van die kollegebestuur.

“Dit is duidelik uit die kollege se optrede dat daar ʼn slang in die gras is. Daar is geen deursigtigheid nie en studente verdien om antwoorde te kry op hulle klagtes. Indien alles by die kollege pluis en in plek was, sou hulle tog geen probleem gehad het rakende ons besoek nie”, het Maree afgesluit.

Sien ook aangehegte skrywe wat vroeër vanjaar aan die Potchefstroom Landboukollege gestuur is wat onder meer die tydloop van gebeure en die verskeie klagtes van studente by die kollege uitlig.