Maties-1

OpenStellenbosch-vergadering ontwrig wéér; AfriForum Jeug eis optrede

AfriForum Jeug eis optrede deur die Universiteit van Stellenbosch (US) se bestuur  nadat ’n optog wat gister deur OpenStellenbosch op die US se kampus gereël is, in ’n gewelddadige betoging voor die Neelsie se deure ontaard het. Dít  volg nadat ’n geskrewe pleidooi van AfriForum Jeug aan die bestuur om veiligheidsmaatreëls op die kampus op te skerp, geïgnoreer is.

Volgens AfriForum Jeug-lede wat tydens die betoging op kampus was, het groot groepe OpenStellenbosch-ondersteuners en universiteitspersoneel by die Rooiplein vir ’n vergadering byeengekom. Dit het glo beheersd met betogingsliedere begin, waarna verskeie sprekers hul afkeur van Afrikaans by die kampus verwoord het en meer as een student het die verwydering van die J.H. Marais-standbeeld geopper.

“Die oomblik toe die meeste OpenStellenbosch-ondersteuners en US-personeel verdaag het, het wanorde egter uitgebreek. Betogers het gewelddadig geraak en dreigemente teenoor onskuldige studente gemaak. Lede van AfriForum Jeug was by die Neelsie toe veiligheidswagte die deure sluit om betogers buite te hou en kon gevolglik nie hul middagklasse bywoon nie,” het Bernard Pieters, AfriForum Jeug se Maties-kampuskoördineerder, gesê.

“Betogers het asblikke omgekeer, glasbottels gebreek en koerante aan die brand gesteek.  Dít terwyl ander lede van OpenStellenbosch met plakkate om die J.H. Marais-standbeeld betoog en daarop aangedring het dat dié bekende beeld val.”

’n Privaat veiligheidmaatskappy – wat onmiddellik op die toneel was – het die orde herstel en die perseel spoedig ontruim.