universiteite-knyp

Onderwys Alliansie voorspel onheil vir Universiteite

Die sogenaamde Onderwys Alliansie, wat deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, saamgestel is, het vandeesweek hul onbevoegdheid bevestig deur aan te voer dat alle registrasie- en aansoekgelde by alle universiteite geskrap moet word. AfriForum Jeug betreur dit en meen die voorstel sal universiteite in nog ’n swakker finansiële posisie. 

“Universiteite het dit duidelik gemaak dat hulle reeds in ’n finansiële penarie is. Daar is jaarliks betogings rondom die nasionale studentefinansieringshulpskema (NSFAS) wat onvoldoende is om aan die finansiële verwagtinge van universiteite en studente te voldoen. Om nou nog meer finansiële druk op universiteite te plaas, gaan slegs veroorsaak dat universiteitsgelde in geheel onbekostigbaar duur gaan raak,” het Henk Maree nasionale voorsitter van AfriForum Jeug gesê. 

AfriForum Jeug is nie oortuig dat die departement van hoër onderwys die implikasies van die afskaffing van registrasie- en aansoekgelde besef nie. Die departement moet hul fokus verskuif en seker maak die NSFAS-gelde  word meer doeltreflik aangewend en bereik universiteite ook betyds.

Maree meen die departement moet ook kyk of die sowat R2 miljard wat verlede jaar nie deur die Setas vir opleiding gebruik is nie, nie eerder na die NSFAS oorgeplaas moet word nie. Op die manier sal meer behoeftige studente gehelp kan word om te studeer, het hy gesê.

Die blaam kan egter nie net op die departement geplaas word nie, universiteite moet ook hand in eie boesem steek. Meer eksterne skenkers moet gesoek word en universiteite se Alumni moet gemobiliseer word om bydraes te lewer. Alumni van talle universiteite voel tans vervreem weens geforseerde transformasie by die instellings. Alumni is ’n bron van inkomste wat universiteite meer op kan toespits indien daar na kwessies soos die instandhouding van gesonde tradisies en Afrikaanse onderrig gekyk word.

AfriForum Jeug het vroeër die week hul kommer uitgespreek oor die eksklusiwiteit van die Onderwys Alliansie wat nie voorsiening vir deelname deur minderhede maak nie. Nzimande is versoek om AfriForum Jeug deel van die samesprekings te maak.

“Die Onderwys Alliansie is nou net ’n eensydige groep ANC-aanhangers wat minderhede uit alle prosesse wil uitsluit,”  sê Maree.

universiteite-knyp