Nzimande maak van onderwys ʼn politieke foefie

AfriForum Jeug sê dat die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, se samestelling van ʼn “Akademiese Alliansie” ʼn politieke foefie is wat bloot as dekmantel dien om eensydige beleidsrigtings te regverdig. Geen minderheidsgroep is genooi om deel van die samesprekings te wees nie. 

“Nzimande se sogenaamde ‘wye verskeidenheid van belangegroepe’ bestaan uit ʼn handvol vertakkings van die ANC en die regering se verlangse familie,” sê Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

Nzimande het aangedui dat die Alliansie op die been gebring is om die verwagtings van onderskeie belangegroepe in hoër onderwys te oorweeg en te verstaan.

AfriForum Jeug het ʼn skrywe aan Nzimande gestuur waarin ʼn vergadering versoek word. “As Nzimande werklik in alle rolspelers se verwagtings belangstel, behoort hy dan daad by woord te sit. Ons is ywerig om ons gedagtes met die minister te deel”,  sê Maree.

Die minister voer alewig aan dat diversiteit moet seëvier en dat instellings toeganklik moet wees. Dit blyk egter dat die regering meer toeganklik is vir sekeres as vir ander.

Onder andere is die volgende organisasies deur Nzimande genooi:

  • ANC
  • COSATU
  • SACP
  • NEHAWU
  • SASCO
  • HETN (Higher Education Transformation Network)
  • ANCYL
  • YCLSA
  • SAUS

Volg hierdie skakel om ons brief aan die Departement van Hoër Onderwys te lees.