US

Maties-rektor verseker AfriForum Jeug van kampusveiligheid

Die Universiteit van Stellenbosch (US) se jaarlikse konvokasievergadering, wat vandag plaasvind, sal volgens prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van die US, vreedsaam verloop. Prof. De Villiers het in ʼn skrywe aan AfriForum Jeug op 15 Januarie 2016 die versekering gegee dat individuele sowel as algemene kampusveiligheid by die US sal heers tydens die vergadering.

“Die individuele en algemene veiligheid by universiteite regoor die land is vir AfriForum Jeug ʼn prioriteit. AfriForum Jeug sal nie skroom om op te tree indien kampusveiligheid weer onder leë beloftes en wanbestuur onderdruk word nie,” het Bernard Pieters, woordvoerder van AfriForum Jeug se Maties-tak, gesê.

In 2015 is verskeie gevalle aangemeld waar die universiteit onsuksesvol was in die versekering van kampusveiligheid. Kampusaktiwiteite is onder meer deur betogings en optogte ontwrig en studente het vir hul lewens gevrees. Sulke onveilige aksies het ononderbroke plaasgevind onder die leiding van groepe soos Open Stellenbosch. Die bestuur van die universiteit het geen aksie geneem om kampusveiligheid te verseker nie en AfriForum Jeug het noodgedwonge opgetree deur ʼn privaat sekuriteitsmaatskappy op eie onkoste aan te stel om die US-kampus te beveilig.

Ná vele bewerings van potensiële ontwrigting van onder meer die konvokasievergadering deur groepe soos Open Stellenbosch, het prof. De Villiers aan AfriForum Jeug bevestig dat die veiligheid van die universiteit se studente en personeel ten alle tye en in alle omstandighede ʼn prioriteit is.

“Dit is ʼn verantwoordelikheid wat ons ernstig opneem, en ek kan u verseker dat ons wel oor ʼn veiligheidsplan beskik, dat gebeurlikheidsplanne in plek is, en dat ons gereed is vir die jaar wat voorlê – insluitend die onmiddellike uitdagings rondom verwelkoming, registrasie en die konvokasievergadering, wat om die draai is,” het prof. De Villiers in sy skrywe aan AfriForum Jeug verduidelik.

AfriForum Jeug neem kampusveiligheid ernstig op en sal die kampusbestuur van die Universiteit van Stellenbosch aanspreeklik hou vir hul erkende verantwoordelikheid om kampusveiligheid te verseker.