Maties-3

Matie-taalbeleid ongeldig; AfriForum Jeug beteken dringende aansoek op universiteit

AfriForum Jeug het gister ʼn dringende aansoek beteken op die Universiteit van Stellenbosch om ʼn interdik te verkry om die universiteit te dwing om sy taalbeleid en -plan, sowel as die taalspesifikasies soos in die 2016 Jaarboek gepubliseer, te implementeer.

Dit volg slegs ’n maand nadat AfriForum Jeug ʼn soortgelyke aansoek voor die hof wou bring en die US toe op die trappe voor die hof bes gegee het en skriftelik onderneem het dat stappe geneem sal word om te verseker dat alle fakulteite die universiteit se taalbeleid sal implementeer.

“Die universiteit het egter kort hierna sy onderneming verbreek en voortgegaan met die onwettige uitvoering van sy planne om Engels voortaan as enigste voertaal op die US-kampus te ondersteun,” het Hein Gonzales, AfriForum Jeug se woordvoerder, gesê.

AfriForum Jeug word in die nuwe hofaansoek ook deur ander organisasies ondersteun wat eweneens geskok is deur die US se verbreking van ʼn skriftelike onderneming om nie af te wyk van sy taalbeleid en -plan nie.

Die jeugorganisasie word oorval deur boodskappe van ondersteuning gerig deur wyd uiteenlopende groepe wat hulle beywer vir die behoud van Afrikaans op die Matie-kampus. AfriForum Jeug is hoopvol dat talle organisasies die burgerregte-waghond in die huidige geding formeel sal ondersteun deur tot die hofstryd toe te tree as vriende van die hof.

“Dit gaan hier oor ʼn onaanvaarbare en onwettige inbraak op grondwetlike regte. Die US se verbreking van ʼn skriftelike onderneming wys dat die US-bestuur nie vertrou kan word met die verantwoordelikheid om grondwetlike regte te eerbiedig en te beskerm nie.”